14 dae gelede
Oue (80) is in skok ná rape deur laitie
TRAUMA: Die oumatjie kan nie glo dat sy op haar oudag so ’n verskriklike nagmerrie moes deurmaak nie.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Die snotkop-klong het haar herhaaldelik verkrag en sy het ál haar krag gebruik om hom op die laaste moment voordat hy haar sou doodsteek, van haar lyf af te stoot.

Só vertel ’n oumatjie (80) wat na bewering deur ’n 13-jarige klong in ’n bos verkrag is.

Dit het twee weke gelede al gebeur, maar het nou eers op die lappe gekom.

Die ouma, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie, het aan Son gesê sy het deur ’n bitter hel gegaan.

“Ek het die betrokke middag by ’n vriendin gaan kuier,” vertel die ouma in trane.

Volgens die ouma het die laitie wat die liederlike ding met haar gedoen het, ook in hul geselskap gesit.

Die ouma sê haar vriendin het haar toe ’n koppie koffie aangebied. Die klong het ook op ’n koppie koffie aangedring.

“Ek het nog vir hom gesê hy moet buite gaan speel en ophou tande tel,” sê die ouma.

Sy sê die klong het hom toe vererg en vir haar gesê sy sal sien wat doen hy.

Die ouma sê later, net voor 16:00, het sy kortpad deur die bosse huis toe geloop.

“Ek het toe net gevoel hoe iemand my van agter af gryp en teen die grond neergooi.

“Ek sien toe dis dieselfde klong. Hy het ’n ysterpen teen my nek gedruk en gesê ek moet stil lê of hy maak my vrek.

“Hy het toe my panty van my lyf afgeskeur en my verkrag.”

Die ouma sê sy’t nog vir die jeugdige verdagte gesê hy behoort hom te skaam vir dit wat hy aan haar doen.

Geslaan

Maar pleks van gehoor gee, het hy voortgegaan om haar aanhoudend te verkrag, sê sy, terwyl sy maats die vieslike daad vanaf ’n heuwel dopgehou het.

Volgens die ouma wou die klong haar met die ysterpen steek omdat sy nie wou stilbly nie.

“Hy wou my nóg ’n keer verkrag, maar ek gryp toe sy tril, draai dit om en stoot hom die bosse in,” vertel die erg getraumatiseerde ouma.

Verwoes

Seuns wat daar naby was, het toe nader gehol en die verdagte hospitaal toe geslaan.

Die polisie en ambulansdienste is ontbied en die ouma is na ’n hospitaal vervoer. Haar suster sê sy kan nie glo dat ’n jong seun haar suster se laaste jare op aarde so kom verwoes het nie.

“Mag hy vir ewig agter tralies sit,” sê die suster.

Son verneem die laitie is in ’n hospitaal opgeneem en word daar behandel.

Kapt. W. Crawford van die eenheid belas met gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (FCS) in Worcester het die voorval bevestig. ’n Saak van verkragting word ondersoek.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters