2 maande gelede
Oubaas se AllPay bly ’NoPay’
Wanhopig: Pieter Arendorff weet nie meer watter kant toe nie.  ~ Basil Davids

MCGREGOR. – Moedverloor se vlakte is nou sy voorland oor UIF en AllPay-geldjies wat maar net nie sy kant toe kan kom nie.

Pieter Arendorff (67) het ’n paar jaar gelede afgetree.

Hy stres nou omdat hy nie meer ’n inkomste het nie.

Arendorff sê hy is in die proses om vir AllPay aansoek te doen.

Maar die lewe keer hom nou die rug toe en hy sien net donker dae vorentoe.

Gestuur

“Ek het ’n familie vir wie ek moet sorg en my koskaste is dolleeg,” het Arendorff desperaat gesê.

Volgens hom is hy ook nie meer van die gesondste nie.

“Ek moes ’n paar keer Worcester toe gaan vir die UIF-aansoek.

“Maar toe ek daar kom, word ek weer terug Robertson toe gestuur,” het Arendorff gesug.

Hy sê toe hy by Robertson se UIF-kantoor kom, word hy weer na ’n kantoor in Nkqubela verwys.

“Hier het hulle my vorms ingevul en my ook ’n datum gegee wanneer ek weer vir my geld moet kom teken,” het Arendorff gesê.

Volgens hom het die maande toe verby getik, maar hy het nog geen uitbetalings ontvang nie.

In ’n boodskap wat Arendorff onlangs van die plaaslike arbeidsentrum ontvang het, sê hulle nou nee, sy aansoek is afgekeur.

Hulle sê ook in die brief Arendorff kan appelleer, maar dat die appèl binne 90 dae moet geskied.

Daai boodskap het hom nóg meer slaaplose nagte besorg.

Shivani Wahab, ’n Sassa-woordvoerder, sê die aansoekproses vir enige maatskaplike toelaes kan by ’n Sassa-kantoor of aanlyn voltooi word.

Alle aansoeke om maatskaplike toelaes moet aan die gestelde kriteria voldoen om vir die toekenning te kwalifiseer.

Volgens haar vat dit on­geveer drie werkdae vir ’n aansoek om afgehandel te word.

Wahab het versoek dat Arendorff weer sy ID-nommer aan hul kantoor verskaf sodat meer besonderhede rakende­ sy aansoek verskaf kan word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters