26 dae gelede
Ou sê sy peule is die langste
BAIE GROOT: Andy Paulsen het rede om te spog met sy ekstra lang peule.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Hy glo sy peule is die langste in die hele Wes-Kaap.

Andy Paulsen het hom in die lockdown by sy huis met tuinbou besig gehou.

’n Opgewonde Paulsen was heel in sy noppies toe Son hom Vrydag by sy huis ontmoet en na die groentetuin agter in sy yard gaan.

“Kyk hoe mooi lank is my boontjiepeule,” het Paulsen lekker uit sy keelgat gelag.

Volgens Paulsen is sy oes vanjaar een van die heel bestes­ wat sy tuin al ooit opgelewer het.

Paulsen sê die rede dat sy bone so lank groei, is oor hy daai ekstra aandag aan hulle bestee het.

“Ek het my tuin se grond baie goed versorg en ook baie water gegee,” verduidelik Paulsen.

Rekord

Toe sy peule begin groei, vertel hy, het hy sommer geweet dié bone gaan in ’n klas van hul eie wees.

Paulsen sê ná weke se versorging glo hy sy boontjies slaan die rekord.

“Ek glo inderdaad dat my peule die langste in die hele Wes-Kaap is,” beklemtoon Paulsen baie ernstig.

Hy sê hy was nou onlangs by die plaaslike markie en het met sy bone gaan spog.

Volgens Paulsen het een van die markie se eienaars ook gesê dié bone is definitief in ’n ander klas.

Die boontjieboer sê hy beoog om binnekort van sy bone te oes en hy wil graag van sy bone aan mense gee – “net om hul harte te steel”.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters