29 dae gelede
Ou sê cops klou aan sy geld
Ontevrede: Zandisile Sontashe soek sy geld by die polisie.Foto: KALLIE SMIT  ~ 

TULBAGH. – ’n Ou wat op ’n dwelmverwante klag gearresteer is soek nou sy geld terug waarop die cops beslag gelê het.

Zandisile Sontashe (39) se blyplek is nou al 18 maande gelede vir dwelms uitgeskud. Die polisie het drie en ’n half straws tik gekry en hom gearresteer.

Volgens hom is daar ook op ’n bedrag kontant van hom beslag gelê.

Beveel

Die geld is nie voor hom getel soos wetlik vereis word nie, kla Sontashe. Volgens hom is daar ook geen kwitansie of bewys aan hom gegee dat hulle op die geld beslag gelê het nie.

Sontashe beweer die polisie het sy wallet met R4 000 se note in en ’n boksie met R2- en R5-munte van tussen R6 000 en R7 000 gevat.

Terwyl die polisie besig was om Sontashe se blyplek te deursoek, het sy werkgewer, David Williams, daar opgedaag.

Hy is beveel om buite te wag. Sontashe woon op sy perseel.

By Sontashe se arrestasie was daar nóg ses sake waarvoor hy moes hof loop. Die staatsaanklaer het toe met hom ’n ooreenkoms aangegaan en voorgeneem om vier van die sewe klagte terug te trek as hy skuldig pleit op die ander drie.

Hy het daartoe ingestem.

Sontashe sê een van die vier klagte wat teruggetrek is, is die een waarby die geld betrokke was waarop die polisie beslag gelê het.

Maar hy sukkel nou al twee jaar om sy geld terug te kry.

Sontashe sê: “Daar is al hoeveel keer vir my gesê my geld is by die polisiestasie en ek gaan dit terugkry. As ek weer gaan navraag doen, is die beampte wat ek moet sien kwansuis nie daar nie.

“Elke keer is daar ’n ander verskoning. Ek was al by die stasiebevelvoerder, kol. Charlie Meiring, en weer so onlangs as ’n maand gelede, maar hy kan nie vir my antwoorde gee oor wat van my geld geword het nie.”

Meiring het nie gereageer op ’n versoek van Son vir kommentaar oor Sontashe se dilemma nie.

Terugbesorg

Sontaga Seisa, waar­nemende nasionale woordvoerder van die polisie se onafhanklike ondersoekdirektoraat, sê: “Geld en eiendom waarop beslag gelê word, moet behoorlik in die SAPD-register opgeteken en vir veilige bewaring gehou word.

“As dit nie aan die staat verbeurd verklaar is nie, moet dit met die regte prosedure aan die wettige eienaar terugbesorg word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters