Verlede maand
Ou man verloor nou kop
Foto ter illustrasie  ~ iStock

BONNIEVALE. – Hy raak half van sy kop af oor hy man­alleen ál sy drank uitgesuip het.

Só moan die 66-jarige girlfriend oor haar 68-jarige boyfriend wat volgens haar ná sy aftrede nog elke dag een of twee bottels brandy koud slaan.

Die girlfriend, oorspronklik van Prins Albert, vra om anoniem te bly oor haar ou met wie sy vyf jaar ’n verhouding het, nie daarvan sal hou dat ander weet van sy skandes nie.

Volgens die girlfriend het sy onlangs in Son gelees van die man wat elke dag whisky in sy keel afgooi. Sy besluit toe om haar nagmerrie ook met Son te deel.

“Nou is die suiplap so opgestres oor sy dop op is en ál die kantiene is toe tydens die lockdown-besigheid,” sê die vrou.

Volgens die girlfriend het die ou vergeet om voor die lockdown sy stock aan te vul.

“Nou gaan hy op my kop tekere asof dit my blerrie skuld is,” braak die arme vrou gal.

Volgens haar het hy al begin om potte in die huis rond te gooi.

Leeggeloop

“Ek’t sommer daai noodnommer gebel van mans wat hulle vroue in dié tyd mishandel voordat hy my ook afstof,” laat sy in ’n pieperige stemmetjie hoor.

Die oom het al smokkelhuise gebel waar hy altyd met ’n doppie regkom, maar hulle het leeggeloop of die cops het hulle drank reeds gekonfiskeer.

“Hy wil nou net nie verstaan dat die off-sales almal gesluit is nie,” vertel die vrou verder.

Volgens haar het sy al vir hom ’n kalmeerpil ook ingegee.

“Sodra daai pil se sterkte uit sy liggaam getrek het, soek hy ’n sterk dop.”

Sy sê sy tel nou saam met hom die dae van lockdown af, sodat hy net ’n slag ’n dop in die hande kan kry.

’n Maatskaplike werker, Bernard Cupido, sê alkoholiste sukkel in dié tyd.

Volgens Cupido kry strawwe drinkers onttrekkingsimptome, maar daar is wel hulp wat hulle kan kry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters