Verlede maand
Ou dog lewe speed verby

“HOEWEL hul job is om mense te beskerm, het ek gedog ek gaan dood die way hulle my geslaan het.”

’n Video van John Jasson (31) het oor die naweek viral gegaan.

Die video wys hoe verkeersbeamptes hom na bewering aanrand.

Jasson het Maandag net nadat hy uit die selle vrygelaat is, met Son gesels en vertel oor die dag wat hy gedog het sy laaste uur op aarde breek aan.

“Ek en my vriend was van Malmesbury af op pad Brackenfell toe. Op die Durbanville-pad het ons verby ’n roadblock gery. Dis toe dat ons sien dat ’n traffic cop agter ons aan jaag.

“My vriend het toe afgetrek. Ek wou by die beampte weet wat die prosedure is volgens roadblocks. Dis toe dat hy vir back-up geroep het.”

Jasson vertel dat sy nagmerrie begin het toe die beampte se back-up opdaag.

“Terwyl hulle my vriend na die bussie gevat het, het ek weer met respek gevra wat hul prosedure is.

“Want die roadblock was aan die ander kant van die pad en hulle het agter ons gery om ons te stop. Ons moes weer terugdraai.

“Toe begin die beampte skreeu en sê toe my vriend is verwaand.

“Ons het gehoor dat hy ’n lasbrief vir ’n fine teen sy naam het.

“Ek wou toe weer weet of die beamptes die wet volg, want hulle wou hom toe arresteer. Toe gryp die hoof my aan die keel en sê hy is lankal lus vir my wat so van die polisie op Facebook post.”

Jasson sê dinge het vinnig van daar af uitgerafel.

“Al wat ek kan onthou, is dat hulle my teen my kop geskop en geslaan het.

Oppie grond: Dis by dié padblokkade waar John na bewering liederlik aangerand is.

Opgegooi

“Hulle het my teen die lyf geskop totdat ek ’n punt bereik het waar ek duiselig was en wou uitpass.

“Iemand het my in ’n sta­dium opgelig en ek onthou dat ek ook opgegooi het.

“Ek was uit ’n file uit geslaan,” vertel Jasson oor sy ordeal.

Sy mammie, Shirley Jasson (63), het in trane uitgebars terwyl haar seun oor sy nagmerrie-ervaring uitpak.

Die ma glo die spietkops was met niks anders as poging­ tot moord besig nie.

“Watter voorbeelde is hulle vir ander? Het hulle dan nie ook kinders nie?

“Jy maak mos eenvoudig nie so met ’n mens nie,” sê sy baie hartseer.

Sy sê sy is diep teleurgestel en geskok oor die voorval.

“Vir my gaan skorsings nie ’n duidelik genoeg boodskap uitstuur nie, want hulle het bedoel om hom seer te maak.

“Jy hoort nie in sulke poste as jy mense seermaak en nie daar is om ander mense te beskerm nie.”

Swartland kry skaam vir lede

JOGGIE Scholtz, die Swartland-munisipaliteit se bestuurder­, sê hulle is bewus van die video wat in omloop is. Hulle ondersoek­ tans die voorval.

Scholtz sê: “Die afge­lope naweek is daar ’n video in die sosiale media versprei­ waarby Swartland se munisipale wetstoepassers betrokke was.

“Hierdie voorval word in ’n baie ernstige lig beskou­ en ons is reeds met die nodige stappe besig.

Veilig

“Dissiplinêre prosesse sal teen die wetstoepassers geïnisieer word wat in die video geïdentifiseer kan word.

“Bo en behalwe die interne­ ondersoek waarmee ons reeds besig is, sal daar ook ’n eksterne ondersoeker aangestel word sodat die saak ook onafhanklik ondersoek kan word.

“Swartland se inwoners en besoekers moet te alle tye veilig voel in die teenwoordigheid van ons wetstoepassers.

“Daarom wil ons u ver­seker dat ál die nodige stappe gedoen sal word om enige sulke voorvalle in die toekoms te voorkom.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters