19 dae gelede
Oorskot is toe oud-onnie s’n
Marius Tobias  ~ Foto Verskaf

ROBERTSON. – Die erg ontbinde lyk wat verlede week deur laities op Proefplaas gevind is, is die oorskot van Marius To­bias (54).

Son het vroeër berig oor To­bias, wat amper ’n maand gelede spoorloos verdwyn het.

Sy gebroke familie het vandeesweek aan Son bevestig dat die polisie hulle in kennis kom stel het dat dit definitief hul geliefde broer was.

Die familie vermoed ’n misdaad in sy dood.

Volgens die familie sal die lykskouing die oorsaak van sy dood bepaal.

Die dag van sy verdwyning het hy nog aan sy familie gesê jongens het met hom skoor­gesoek.

Bedank

Hy het ook gesê die ouens het sy geld afgevat. Son verneem dat hy toe die next dag terug is na die jongens, vermoedelik om sy geld terug te gaan kry.

To­bias het toe nooit by die huis opgedaag nie.

HIERSO: Polisie op die toneel waar die liggaam gevind is. Foto: Basil Davids

Sy oudste broer, Ben, sê: “Ons as familie wil almal bedank wat in die laaste weke na hom gesoek het.”

Hy bedank ook in besonder die polisie vir alles wat hulle gedoen het om hul familie by te staan.

To­bias het in die 1980’s aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) onderwys geswot.

Sy familie sal hom as ’n baie stil man onthou.

Hy word môre 10:00 vanuit die VGK Kerk in Loopstraat begrawe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters