11 dae gelede
Oompie het dalk nog sakke geld

TOUWSRIVIER. – Dit wil voorkom asof David “Oompie” Cupido die waarheid gepraat het toe hy gesê het hy het nog van sy miljoene oor.

Almal wil egter weet of hy sy 12 000 beleggers op 18 Desember gaan uitbetaal soos belowe.

Cupido se beleggingsmaatskappy, 4th Power Investments, is nie die enigste maatskappy wat hy en sy vrou, Febe, besit nie.

Son is in besit van bewyse dat dié power couple vele ander besighede besit.

Van die besighede se name is Tomorrow’s Music Co-Operative Limited, Mekasa Constructions, Touws Veggies Primary Co-Operative, Nikkel Trading 140, Cuberg Investments, Yahweh’s Promises, Simiselwa Capital, Michael’s War, Dhavied’s Battlefield, Fat JC and Sons en From Gutters to Glory.

Sommige van dié 11 besighede is steeds aktief en ander is in die proses om gederegistreer te word.

Die rede hiervoor is dat die besighede geen belasting betaal nie.

Verkla

Christopher Martin, ’n belegger wat nou saam met die Valke werk om Cupido agter tralies te kry, het aan Son gesê wat vir hulle op die state uitgestaan het, is dat daar vele ander besighede onder sy agente se name geregistreer is.

Volgens Martin behoort dié besighede heel waarskynlik aan Cupido.

Hy sê Cupido dra nie kennis dat hulle dié inligting bekom het nie.

Volgens Martin het hy reeds vir Cupido by Sars verkla.

Hy verduidelik: “Die mense wat so-called agente was, hulle was nie agente nie!

“Hulle het hul eie maatskappye bedryf en alle geld wat hulle ontvang het, het hulle tussen hulself en Oompie gesplit.

“Hulle sou 70% in hul sak druk en 30% aan Oompie gee.”

Son het Touwsrivier gister besoek, maar die inwoners was nie juis gretig om te gesels nie.

Volgens Nigel Philander, nog ’n belegger wat saam met die Valke werk, het die meeste van Touwsrivier se mense volle vertroue in “King Dhavied”, soos hulle Cupido noem.

Philander het aan Son gesê hy weet hy gaan gekruisig word as hy met die media oor Cupido praat.

Hy sê die skille het lankal van sy oë afgeval en hy weet Cupido het sy 12 000 beleggers ’n rat voor die oë gedraai.

Philander vaar uit: “Dis nou die derde agtereenvolgende jaar wat hy belowe hy gaan uitbetaal.

“Los die games en sê vir die mense jy het nie meer geld nie sodat hulle kan aangaan met hul lewe. Hulle het nog daai greintjie hoop dat hy sal uitbetaal.

“Hy veroorsaak verdriet in die mense se lewe.

“Ek weet al die mense gaan honger ly hierdie Krismis, want dit gebeur nou al te gereeld.”

Toe Son Cupido by sy huis besoek vir kommentaar, het sy ouer broer John Jacobs uitgekom.

Afspraak

Jacobs het gesê sy broer is in ’n vergadering en Son se span sal hom nie kan sien nie, want hulle het die aand ’n kerkdiens.

Son het toe aan hom gesê ons is bereid om te wag.

Jacobs het volgehou die Son-span kan nie wag nie en dat ons ’n afspraak moet maak as ons die vreeslik besige Cupido wil sien.

Op ’n navraag oor ’n afspraak, het Jacobs gesê hy weet nie of Cupido se afspraakboek vol is nie.

Hierna het Jacobs in die huis in verdwyn en toe weer na buite gekom.

Hy het toe gesê Cupido sê hy weet nie hoe lank hy besig gaan wees nie, maar daar gaan nie tyd wees om te gesels nie.

Son se span het nog ’n rukkie voor die huis gewag, maar Cupido het nooit uitgekom nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters