25 dae gelede
Oom sterf ’n week voor hy 116 word
LAASTE EEN: Oupa Andrew Tengeni Mamshiyani en sy vrou, Spaas (88), vier verlede jaar sy 115de verjaarsdag.  ~ Basil Davids

ASHTON. – Oupa Andrew Tengeni Mamshiyani is Dinsdag in die ouderdom van 115 oorlede.

Mamshiyani is aan natuurlike oorsake oorlede net ’n week voor sy 116de verjaardag.

Op sy verjaardag verlede jaar het Mamshiyani nog aan Son gesê hy glo hy is inderdaad die tweede oudste man op aarde.

Oom Fredie Blom van Kaapstad is 116 en hy spog dat hy die oudste mens op aarde is.

’n Kleinkind van Mamshiyani, Geroldine Sebonika, het gister aan Son gesê haar oupa is aan natuur­like oorsake oorlede.

Mamshiyani het nog in sy laaste onderhoud met Son gesê hy is oorspronklik van Tanzanië.

Hy het die pad gevat en hom op ’n plaas buite Robertson kom vestig, waar hy donkiejare werksaam was.

Tuinmaak

Sy kinders sal hom altyd as ’n hardwerkende man onthou.

Hy was baie lief vir tuinmaak en dit het hom na die lewe laat uitsien.

Mamshiyani was baie lief vir sy kinders en het hulle nog tot laat in sy lewe ’n drag slae gegee wanneer hulle verkeerd in die lewe getrap het.

Lede van die plaasgemeenskap in die omgewing sê die oupa het ’n vol lewe gelei.

Een van hulle sê “daai oupa was baie streng en dis waarvoor hy onthou sal word.

Sy vrou, Spaas (88), sê sy gaan hom baie mis.

Benewens ant Spaas, laat Mamshi­yani 5 dogters, 14 kleinkinders, 38 agterkleinkinders en 2 agter-agterkleinkinders agter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters