19 dae gelede
Oom kry ID ná ’n leeftyd
EINDELIK! Raadslid JJ Januarie oorhandig oom Johannes se geboortesertifikaat aan hom.  ~ Basil Davids

BONNIEVALE. – Vir die heel eerste keer in sy lang leeftyd het hy uiteindelik ’n amptelike identiteit.

Oom Johannes Mentoor (78) was hierdie week baie opgewonde toe hy sy heel eerste geboortesertifikaat ontvang. Mentoor se ouers het by geboorte nooit sy naam by die destydse binnelandse sake aangemeld nie.

Volgens Mentoor weet hy tot vandag nie wat die rede is dat hy nooit ’n geboortesertifikaat gehad het nie.

“Soos ek grootgeword het, het ek ook nooit die skoolbanke geken nie,” vertel Mentoor.

Volgens hom moes hy reeds van kleins af op die landerye gaan werk.

“Daardie jare moes ons as kinders wat nie skooltoe gegaan het nie, op plaasboere se landerye gaan werk het,” flits Mentoor se gedagtes terug na vergeelde gisters.

Vandag is hy baie dankbaar dat hy uiteindelik sy ID ontvang het. Mentoor is ook baie beïndruk dat hy nou vir die eerste keer in sy lewe in die AllPay-ry kan gaan staan.

“Ek gaan sommer vir my ’n trein koop en al die mense oplaai en die land plat toer,” spot Mentoor.

Sy kleinkinders sê hulle gaan vir hom ’n ordentlike Wendy-huisie koop en ’n gemakstoel waarin hy heeldag agteroor kan sit. Mentoor bedank raadslid JJ Januarie, wat hom gehelp het om uiteindelik sy naam en van in swart op wit te kry.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters