Verlede maand
‘Ons woon in strontstraat’
Siesa! Darius Alexander (63) van Chicago in die Paarl kla oor die stank en riool wat vlak voor sy deur verbyloop.FOTO VERSKAF  ~ 

’N GROEP inwoners van Chicago in die Paarl kla oor geblokte dreine wat nie reggemaak word nie.

Volgens een van die inwoners van Steenbokstraat kan hulle nie meer die stank uithou van die riool wat in die straat uitloop nie.

’n Omgekrapte Darius Alexander (63) sê: “Die riool loop vlak voor my deur verby en die stank is ondraaglik.

“My vrou kan nie eens in die aande kos kook nie, want dan is die huis vol vlieë.

“Ons moet die deure gedurig toehou om die vlieë en stank uit te hou.

“Die reuk maak jou naar en siek. Ons sukkel al die afgelope twee weke met die verstopte dreine.

“Die Drakenstein Munisipaliteit steur hom nie aan ons nie en die dienslewering is baie swak.”

Volgens die inwoners kom die riool van twee woonstelle waar die dreine geblok is en dit loop voor hulle huise verby.

Hulle vrees hulle kinders kan siek raak en in die strontwater speel.

Die inwoners kla ook dat hulle nou al jare daar woon en hulle woonstelle is nog nooit geverf nie.

Volgens Riana Geldenhuys, ’n woordvoerder van die Drakenstein Munisipaliteit, het hulle gisteroggend die geblokte dreine gaan regmaak.

Leuens

Geldenhuys beweer hulle het eers gister van die probleem te hore gekom toe Son hulle genader het.

Alexander beweer dit is alles leuens, want hulle sit al die afgelope twee weke met die probleem.

Volgens hom het hulle al verskeie kere by die munisipaliteit gekla oor die dreine wat oorloop, maar niks is gedoen nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters