14 dae gelede
‘Ons wil agterstand inhaal’
NUWE BEGIN: Klein Mayson Vermeulen is deur sy skool se mascot verwelkom.  ~ Kallie Smit

SARON. – Dit was Maandag duidelik dat die begin van ’n nuwe skooljaar ’n welkome uitkoms gebied het vir baie kinders wat deur die inperking en die lockdown-regulasies geraak is.

By Saron Primêr, met ’n leerdertal van 1 337, is 173 kinders vir gr. 1 ingeskryf.

Klasse is taamlik groot, met sommige wat meer as 40 leerders per klas het.

Bron Matthyse, waar­nemende hoof by Saron Primêr, sê die skool wil graag die hoë standaard van onderrig en dissipline handhaaf waaraan hulle gewoond is.

Hy sê verder: “Ons leerders se gesondheid en veiligheid is bo-aan die lys van prioriteite.

“Ons wil probeer om die groot agterstand wat as gevolg van die Covid-pandemie geskep is, in te haal met ekstra namiddagklasse en ’n naskoolse voedingsprogram.

“Leerders wat nie ver­lede jaar opgedaag het nie, moet weer hul plek op die skoolbank inneem.”

Die hoof het ’n beroep op ouers gedoen om met die skool saam te werk en te sorg dat leerders gereeld hul klasse bywoon.

In gr. 1B was ál die leerders gretig om hul skooljaar af te skop.

LeCale Hill (6) wil ’n polisiebeampte word en Marshalino Charles (6) ’n brandweerman.

Opgewonde

In Porterville is Mayson Vermeulen (6) een van die kinders wat sommer hul eerste dag van skool by ’n hoërskool begin het.

Die grondslagfase vanaf gr. 1 tot 3 maak deel uit van die Hoërskool Porterville.

Daar word na hulle as die Kleinskooltjie verwys.

Dié skool se leerders staan bekend as die bulle en Mayson was sommer baie opgewonde om ook nou ’n bulletjie te wees.

Dit was vir hom ’n groot verrassing toe hy deur die skool se bul-mascot by die hek verwelkom is sodat hy tuis kon voel by sy skool, wat bekend is vir sy hoë standaard van onderrig en leerders wat uitblink op die sportveld.

Mayson sê: “Ons gaan skoolboeke kry en dan gaan ons lees en skryf en nommers tel. Ons gaan ook huiswerk kry.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters