26 dae gelede
‘Ons is al jare op die waglys’
in die soeklig: Die White City-behuisingskompleks waaroor mense nou betoog. Foto’s: BASIL DAVIDS  ~ 

MCGREGOR. – Mense wat al jare lank onder haglike omstandighede in die plakkerskamp in die dorp woon, is nou net gatvol.

Dié inwoners het einde verlede week onder streng polisietoesig betoog.

Die mense is baie ontevrede, want hoewel hulle op die munisipaliteit se waglys is, beweer hulle ander wat ná hulle aansoek gedoen het, het eerste huise gekry.

’n Erg ontstelde Susel Jansen (63) het al in 1994 aansoek gedoen vir ’n huis in die White City-township.

“Ek woon steeds in ’n hok, asof ek ’n hond is. Dis haglik hier en wanneer dit reën, kan ’n mens skaars by jou voordeur uit,” sê ’n bedrukte Jansen.

Volgens Jansen neem sy ook aan die protes deel, want sy is nou al moedeloos. Sy hoop net hul stemme sal gehoor word.

’n Inwoner wat verkies om anoniem te bly oor hy vrees hy gaan sy kans op ’n huis verloor as hy sy mond uitspoel, voel ook bitter.

“Die dag toe mense hul huis se sleutels ontvang, is ek ook gesê ek moet in die ry kom staan. Maar my naam is toe nooit uitgelees nie en ek het soos ’n pop gevoel,” sê die arme old-timer aan Son.

Die mense sê hulle kan nie meer so in die plakkerskamp leef nie. Volgens hulle is daar wel lopende water, maar die krane bly flenters.

Die toilette is vuil en nie eens ’n hond sal daar wil gaan nommer een en twee nie.

Die inwoners sê hulle soek nie moeilikheid nie en vra net die Langeberg-munisipaliteit om hul stem darem te hoor.

David Kwinana van die Rural Legal Centre in Robertson sê die mense is al baie jare op ’n waglys.

Kwinana bevestig mense van buite die dorp kry huise en selfs mense wat op plase in die omgewing bly, kry voorkeur.

Griewe

Volgens Kwinana gaan hy ’n dringende vergadering met die munisipale bestuurder, Soyisile Mokweni, belê sodat hulle oor die mense se issues kan praat.

Son het by Willy-John Gordon, ’n munisipale woordvoerder, navraag oor die mense se griewe gedoen.

Gordon het bevestig dat hy Son se navraag ontvang het, maar teen druktyd nog nie gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters