Verlede maand
Ons gaan nêrens
OPVOEDING: Jasmine van der Westhuizen, een van die opvoeders van die crèche, lees ’n storie aan ’n paar kinders.  ~ Jonathan Lestrade

DAAR was geen huurkontrak nie; tog is die huurkontrak beëindig.

Die hoof van Noel Stanton Educare in Uitsig, Bella Josephs, sê sy kan nie verstaan wat aangaan nie.

Die crèche in Uitsig bestaan sedert 1996 en volgens Josephs was daar nog nooit ’n lease agreement nie.

Sowat drie weke gelede het ’n werknemer van die Stad Kaapstad daar opgedaag.

Josephs sê die man het haar gevra of die plek nog aan die gang is.

“Ek het vir hom gesê die crèche is oop. Dit is toe hy vir my sê hy het gekom om vir my te sê ek moet die goed uit die gebou verwyder.

“Ek het hom gevra waarom ek dit moet doen en dis tóé dat hy sê die huurkontrak is beëindig,” sê sy.

Josephs sê sy het aan hom verduidelik dat sy nog nooit ’n lease gehad het nie en dat sy al voorheen by die council was vir een, maar hulle het aan haar gesê hulle kan haar nie een gee nie.

“Ek het hom toe gevra aan wie het hulle dan ’n lease agreement gegee en wie het dit geterminate?

“Hy sê toe vir my hy weet nie en dis net die opdrag wat hy gekry het. Hy het dokumente gehad, maar niks vir my gegee nie. Hy het net vir my ’n geel papier gewys waar daar staan dat die lease beëindig is,” verduidelik sy.

Betaal

Josephs sê sy het vir die beampte gesê sy gaan nie die plek vacate nie, want sover sy weet, is dit ’n gemeenskapsgebou en dit is onwaar dat sy agter is met die betaal van die grond.

“Ons was nog nooit agter nie. Ons betaal ál die jare.”

Josephs sê die man het gesê hy gaan maar vir die Stad Kaapstad laat weet dat dinge nog aan die gang is by die crèche en dat hulle dit maar moet verder vat.

Josephs sê sy wil weet wat presies aangaan. Is die Stad Kaapstad die eienaar van die gebou en waar is die lease agreement as daar een is? Tot dan gaan hul deure oop bly.

SOEK ANTWOORDE: Bella Josephs sê hulle gaan nie die plek verlaat nie en hulle wil weet wat presies aangaan. Foto: Jonathan Lestrade

Volgens die Stad Kaapstad, wat die eiendom besit, is daar nie ’n huurkontrak tussen die bestuurder van die crèche en die Stad nie. Die Stad het wel ’n ooreenkoms met Catholic Welfare and Development vir die site.

Die Stad sê hy het ’n stilswyende huurooreenkoms met Catholic Wel­fare and Development.

Die Stad het ook bevestig dat ’n inspeksie gedoen is om die besetting van die perseel te bevestig.

Ingevolge die bepalings van die huurooreenkoms, mag die huurder (Catholic Welfare and Development) nie die eiendom onderverhuur sonder die toestemming van die Stad nie.

Die Stad Kaapstad noem dat hierdie klaarblyklike oortreding opgevolg sal word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters