3 maande gelede
Onnie leef vir sport en mense
passievol: Peter Daniels is ’n bekende gesig in die fietsrywêreld. FOTO’S verskaf  ~ 

’N MAN met ’n passie vir sport en mense.

Só kan daar met reg verwys word na die Paarliet Peter Daniels.

Hy is in Malmesbury gebore, maar het in die Paarl grootgeword. Sy betrokkenheid by sport het al in sy laerskooldae begin by die laerskole Ebenezer en Paarlzicht en is voortgesit by die Hoërskool Paulus Joubert.

Daniels is tans ’n onderwyser by die Laerskool Paarlzicht, wat rugbysterre soos Wayne Julies en Clayton Blommetjies opgelewer het.

Daniels sê: “Ek het ’n gesin wat my fantasties ondersteun.

“My belangstelling in joernalistiek het op laerskool begin waar ek ’n liefde vir koerant lees gehad het en na die radio geluister het.

“ ’n Groot rolmodel vir my was die destydse kommentator-legende Gerhard Viviers.

“En ses jaar gelede is ek genader om ’n sportprogram op ons plaaslike radiostasie aan te bied.”

Daniels sê een van sy grootste hoogtepunte is toe hy drie jaar agtereenvolgens aangewys is as die top-sportjoer­nalis in die Kaapse Wynland.

Hy het ook al ’n Life Time Achiever Award ontvang vir fietsry vir sy meer as 20 jaar van betrokkenheid by dié sport.

“Ek is ook ’n voormalige bestuurslid en nasionale keurder van Fietsry Suid-Afrika, sowel as kommentator op groot fietsrybyeenkomste.

“Sportonderhoude is vir my altyd ’n uitdaging, want jy moet nogal vinnig op jou voete dink oor jou volgende vraag.

“Ontwikkeling van sport in voorheen benadeelde gemeenskappe lê my baie na aan die hart.

“Dit is vir my iets waarna ons as gemeenskap moet uitreik om ’n verskil te maak.

“Ja, daar was dae dat ek baie hard agter die skerms baklei het vir geregtigheid.

“Hierdeur het ek seker baie vriende en vyande opgebou, maar dit was nie vir my belangrik nie, want ek glo dat baie van ons gemeenskappe ’n agterstand het wat seker nooit ingehaal sal word nie,” het Daniels op ’n ernstige noot afgesluit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters