2 maande gelede
Ongeluk, liewe maatjies
hallo? Die inhoud van die matrieks se party packs.Foto’s verskaf  ~ 

ROBERTSON. – Soos snotneus-kleintjies het hulle party packs op hulle matriekafskeid gekry.

En vir dié klap in hul gesig het die matrieks van die Hoërskool Langeberg ’n hele R400 betaal.

Nadat hulle hulle hele skoolloopbaan uitgesien het na hulle droom-aand, is die klas van 2018 met ’n WTF-gevoel gelaat.

Want pleks van ’n spoggerige ete het die matrieks op hul afskeid in die Callie de Wet-sportsaal vir hul R400 mix-a-drink, southappies en ’n party pack gekry.

Hulle was glo so min opgemaak met die kinderkoeldrank dat hulle opgedress en al eerder by die krane in die toilette gaan water drink het.

Teleurgestelde leerders sê hulle het rêrig nie 12 jaar gewag om weer soos crèche- kiddies behandel te word nie.

Die leerders was so woedend, hulle het laas week voor die skool betoog en antwoorde gesoek.

’n Leerder vertel dat hulle vir ’n hoofgereg twee chicken pies, ’n taai samoosa en ’n vetkoek gekry het.

En aan die Jannie-verjaar-koeldrank wou niemand hulle mond sit nie.

Maar asof dié teleurstellende kosfiasko nie erg genoeg was nie, het die grootste low blow van die aand nog gewag.

Toe die bleek afskeid eindig, kry hulle wraggies elkeen ’n party pack.

En nie ’n larney een nie, o nee. Net ’n bruinpapiersakkie met suurwurmpies, bubblegum, klapperlekkers en – bid jou aan – ’n stokkielekker in.

PJ Hulls, die waarnemende skoolhoof, sê gister aan Son: “Ek was nie by die afskeid nie, maar ek voel die leerders moet ’n kans kry om hulle sê te sê.”

Pakkie

Hulls sê die beheerliggaam praat reeds met onderwysers en klashoofde oor die debakel.

“Dis die eerste keer dat ons dié privaat caterers gebruik het.

“Daar was ’n ooreenkoms om ’n pakkie te kry, maar nie met dáái inhoud nie.”

baie vrae: Die matrieks van die Hoërskool Langeberg is kinderlik ongelukkig. Foto: BASIL DAVIDS
Jannie verjaar: Die matrieks het nie van die koeldrank gehou wat hulle gekry het nie.

Hulle voeg by hy verstaan die leerders se frustrasies, veral omdat hulle soveel betaal het.

“Ek glo as daar ’n fout is, moet ons daaruit leer.”

Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, bevestig leerders het self hul menu gekies.

Volgens Merton het hulle ’n cocktail menu versoek en twee geregte ontvang.

“Daar was 17 items op die spyskaart.”

Merton voeg by die matrieks het wel mengeldrankies gekry, maar daar was mense aan diens as die leerders iets anders wou hê.

“Die leerders kon kelners vra om water uit die kombuis te bring.”

Volgens Merton was die nagereg vrugtepuree met room, suurlemoensap en crushed ys. Oor die party packs sê Merton spyseniers het die pakkies verskaf en die skool het nie vooraf die inhoud daarvan gesien nie.

Volg Tracy-Lynn Ruiters op Twitter.

Stuur nuuswenke aan info@son.co.za.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters