23 dae gelede
Ongeluk eis 6 hegte vriende
AFGESKRYF: Die minibus-taxi waarin die slagoffers gereis het, is ’n totale wrak.  ~ Foto Verskaf

ARNISTON. – Ses per­sone van Robertson en Bonnievale het in die fleur van hul lewe in ’n tragiese ongeluk omgekom.

Die ongeluk het Sondag omstreeks 19:00 op die Arniston-Bredasdorp-pad gebeur.

Die slagoffers is Bianca Ross, Stephen Plaatjies, Irma Joseph, Ashley Hector, Amos Visagie en Micayla Windvogel.

Die slagoffers se ouderdomme is nie bekend nie.

Volgens ’n familielid, Yvonne Stofberg, was die vriende vir die dag op ’n uitstappie na Arniston.

“Ons het toe die tyding die aand gekry van die vriende wat in ’n ongeluk was,” sê Stofberg.

Volgens Stofberg is dit in hierdie stadium nog onduidelik wat die oorsaak van die ongeluk was.

Op Facebook sê close vriende dat die tragedie “so onwerklik” voel. Volgens hulle was die groep vriende baie geheg aan mekaar.

Een boodskap lui: “Ons gaan julle baie mis en medelye aan die families.”

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het die ongeluk bevestig.

Traut sê die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

NIE GEMAAK: Ashley Hector (agter), Amos Visagie (middel) en Stephen “Boy” Plaatjies is onder die vriende wat omgekom het. Foto: Verskaf

Beswyk

Volgens Traut het die bestuurder van die minibus-taxi waarin die passasiers op die Arniston-Bredasdorp-pad onderweg was, beheer verloor en die voertuig het gerol.

Vier van die insittendes is op die toneel dood verklaar, terwyl die ander twee in ’n hospitaal beswyk het.

Traut sê vier passasiers is op die toneel behandel. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

DOOD: Bianca Ross en Stephen Plaatjies het gesterf. Foto Verskaf

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters