21 dae gelede
Ongeluk bring net stories
ONS ONTHOU HULLE: Die families hou ’n gedenkdiens vir die jong slagoffers.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Families van die ses mense wat Sondagaand in ’n minibustaxi-ongeluk omgekom het, is baie seergemaak oor sekere mense ontstellende foto’s van die toneel afgeneem het.

Die families sê wat hulle ook nog baie diep seermaak, is dat valse stories oor die ongeluk boonop in die sosiale media die ronde doen.

Son het vroeër berig van die ongeluk wat Sondagaand omstreeks 19:00 op die Arniston-Bredasdorp-pad plaasgevind het.

Die slagoffers is Bianca Ross, Stephen Plaatjies, Irma Joseph, Ashley Hector, Amos Visagie en Micay­la Windvogel.

Hulle was van Robertson en Bonnievale.

Yvonne Stofberg, wat haar namens die families op Facebook uitspreek, vertel hoe ontevrede die families is oor die foto’s wat kort ná die ongeluk van hul geliefdes geneem is.

Volgens Stofberg is hulle ook stukkend oor die lelike stories wat daar in die gemeenskap oor hul geliefdes versprei word.

Sekere mense kom met stories dat daar ’n messtekery in die taxi was.

Bespiegel

Nog boodskappe lees dat daar ’n hiker opgetel is, toe ontstaan daar ’n bakleiery met die betrokke hiker.

WRAK: Die families is ongelukkig oor al die stories wat nou loop oor wat die taxi laat rol het. Foto Verskaf

Stofberg sê daar word ook wyd bespiegel oor wie die driver van die taxi was, en dat dié persoon die skuld vir die ongeluk moet kry.

“Dit was vir ons skokkend toe ons foto’s sien van ons families wat op die toneel hulpeloos lê,” het Stofberg op haar page gesê.

Stofberg sê dat dit ’n prentjie sal wees wat nie gou uit die families se koppe sal verdwyn nie.

Raadslid JJ Januarie sê hy staan die families in hul moeilike tyd by.

’n Kerslig-memorial is Maandagaand in Bonnievale vir die slagoffers gehou.

Die onderskeie families tref tans begrafnisreëlings.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters