13 dae gelede
Onder-mayor is vas vir moord
LEIERS: Jindela saam met Gesie van Deventer (middel) en Mienie Petersen en onderskeidelik burgemeester en speaker van Stellenbosch.  ~ Foto Verskaf

DIE onderburgemeester in die Stellenbosch-munisipaliteit, Nyaniso Jindela, is onder drie verdagtes wat Dinsdag vir moord gearresteer is.

Die inhegtenisneming hou verband met die moord op Cameron Mcako in 2019.

Mcako, ’n voormalige onderburgemeester van Stellenbosch, is op 1 November 2019 in sy Kayamandi tavern geskiet. Hy het twee dae later in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Na wat berig word, was die moord polities gemotiveerd.

Son verneem dat Mcako (wat een van verskeie mense is wat in 2019 in Kayamandi vermoor is) en Jindela mekaar al jare ken. Albei was voorheen lede van die United Democratic Movement (UDM) en voor dit was albei ook in die polisiediens.

Mcako se moord was in ’n tyd toe grondgrype deur politieke figure op ’n hoogtepunt was.

Na bewering was Mcako ook deel van die power struggle in Kayamandi en op die dag dat hy vermoor is, was ’n optog teen hom georganiseer.

Kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, sê die deeglike ondersoekwerk van speurders het tot die inhegtenisneming van ’n twee mans (56 en 48 jaar oud) en ’n vrou (46) gelei.

Die drie verdagtes verskyn vandag in die Stellenbosch-landdroshof op aanklagte van moord en sameswering tot moord. Ronalda Nalumango, koukusleier van die ANC in Stellenbosch, het die polisie gelukgewens met die arrestasies.

Howe

“Geskok, dit is wat ons is. Toe die moord plaasgevind het, het ’n mens maar gedink dit is random mense wat daar gekom en hom vermoor het.

“ ’n Mens sal nie dink dat dit iemand is wat jy ken nie.

Ons sal nou net wil sien dat die saak in die howe kom.”

Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, bevestig dat hulle bewus gemaak is van die inhegtenisneming.

Grobbelaar sê egter dat hulle nie kommentaar op die arrestasie kan maak nie omdat die individu nog nie in die hof verskyn het om ’n pleit in te dien nie.

“Die munisipaliteit sal slegs in staat wees om ’n amptelike verklaring bekend te maak sodra dit gebeur het. Die aanklagte bly onbekend.”

Albert Fritz, interim-leier van die DA in die Wes-Kaap, bevestig dat hy ook kennis dra van die inhegtenisneming van Jindela.

Fritz verduidelik dat hy ingelig is dat Jindela op 1 Junie in hegtenis geneem is op ’n beweerde aanklag van moord.

“Die party beskou hierdie bewering as baie ernstig.

“Ons wag op verdere inligting oor die saak en sal verder kommentaar lewer nadat die uitslag van die interne en eksterne regsprosesse ontvang is.

“Die DA is vol vertroue dat hierdie saak geen invloed op dienslewering in Stellenbosch sal hê nie.”

Intussen bevestig Nalumango aan Son: “Die ANC sal vra dat hy geskors word. Hierdie is iets massive. Dis ’n aanklag van moord.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters