22 dae gelede
Nuwe stoof kom soos beloof
UITGESORT: Aubrey Adonis wys vir Son die stukkende stoof wat vir hulle soveel probleme besorg het.  ~ Kallie Smit

SARON. – ’n Vrou se probleme met haar stoof is in ’n japtrap uitgesort nadat haar seun Son uit radeloosheid oor hul dilemma genader het.

Aubrey Adonis (50) het in Junie 2018 ’n nuwe stoof vir sy ma, Wilna (72), by Bradlows in die Paarl gekoop.

Die stoof, wat ’n waarborg van twee jaar gehad het, het binne die eerste jaar begin probleme gee.

Die verf in die oond het begin afdop. Adonis, wat in Stellenbosch skoolhou, het die handelaar in kennis gestel van die probleem.

Hy vertel: “Die winkel het ’n tegnikus uitgestuur om die stoof te kom regmaak.

“Die man het toe gesê die verf wat afdop, hou ’n gesond­heidsrisiko in en ons kan siek raak daarvan.

“Hy sê toe dat hulle die stoof sal moet vervang. Hulle sou die stoof kom haal en ’n nuwe een bring, maar dit het nooit gebeur nie.”

Adonis se ma was teen dié tyd raadop, want sy kon nie die stoof gebruik nie. Die oond se deur wou later ook nie meer toemaak nie en dit was in almal se pad.

Adonis vertel verder: “Ná vele oproepe het ons in September laas jaar die bestuurder van die winkel gaan sien.

“Beloftes is gemaak, maar ons het steeds niks van hulle gehoor nie.

“Ons het weer in Desember die bestuurder gaan sien en hy sê toe vir ons hy was onder die indruk dat hulle al die stukkende stoof kom haal het.

“Hy het selfs vir ons gaan wys hoe die nuwe stoof lyk wat ons moes kry, maar hulle het nie gekom soos hulle belowe het nie.”

Toe Son Petrus van Bosch, die bestuurder, laas Maandag oor Adonis se probleme gebel het, het hy belowe die nuwe stoof sal die volgende dag afgelewer word.

Van Bosch het sy woord gestand gedoen en die nuwe stoof is Dinsdagoggend by Adonis se ma afgelewer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters