24 dae gelede
Nuwe blyplek ‘is nie veilig’
Ontevrede: Leonardo Goeiman sê daar is baie ontevredenheid oor die hokke.  ~ Jonathan Lestrade

“EK SAL nie gaan nie. Daai hokke is baie klein. Dis vir diere, nie vir mense nie...”

Só sê Natisha October (39) een van die inwoners wat saam met ’n stuk of 50 ander gesinne in New Or­leans Park in die Paarl woon.

Hulle woon in die park sedert hulle luidens ’n hofbevel in 2016 van ’n plaas bekend as Blou Huis moes verhuis.

Sy en die ander het onlangs briewe ontvang dat hulle gister, op die voorgestelde datum van 22 September 2021, die oord moes verlaat en na die Drakenstein-munisipaliteit se noodbehuisingsperseel in Schoongezicht trek.

Maar October sê die huise op die Schoongezicht-perseel is nie geskik vir hulle nie.

“Ek dink aan my kinders se toekoms en ek sal nie daar kan bly nie,” sê sy.

Leonardo Goeiman (44), ook ’n inwoner van die park, sê as gemeenskap voel hulle baie ontevrede.

“Ons voel ons wil graag die park verlaat, maar as ons van hier af moet trek, wil ons graag in huise ingaan. Dit is ons begeerte.

“Ons wag dus op die munisipaliteit om vir ons te sê wat hulle plan met ons is,” sê hy.

Goeiman sê hulle is ook bekommerd oor hul veiligheid en voel daar word nie aan hulle veiligheid gedink nie.

“Hoeveel hokke brand nie uit nie? Hoeveel gesinne brand nie uit nie?

“Die regering moet ’n lyn trek. Die president moet ’n lyn trek vir die evictions en die hokke wat opgesit word.

“Die hokke is teenaan mekaar en daar is nie spasie nie. So, my vraag is wat van ons veiligheid?” vra hy.

Nog ’n inwoner, Saraline Cameron (43), sê hulle is amper vier jaar in die park.

Omdraai

“Ons is gesê ons gaan net drie maande hier woon, maar kyk nou. Ons is steeds hier.

“Daardie hokke is nie vir mense om in te bly nie.

“Daar is een venster en die vloer is ook nie reg nie.

“Ek het na die toilet gekyk en jy kan nie eens daar omdraai nie.

“Ons sal liewer hier bly totdat daar alternatiewe verblyf is, maar hier waar ons nou is, is veiliger,” sê sy.

Anna Keyster (71) sê sy sal ook nie op die nuwe perseel bly nie.

“Ek het gesien hoe lyk dit daar en wat daar aangaan.. sodra jy in die hokke gaan en op die grond trap, dan sak jou voet in die modder.

“So, ek bly waar ek is,” sê sy vasbeslote.

Willem Pieters (56) deel die sentiment van sy bure.

“Die munisipaliteit moet vir ons alternatiewe verblyf verskaf, maar dit wat hulle nou vir ons wil gee, moet hulle heroorweeg. Ek wil graag hê hulle moet hul beloftes nakom.

“Hulle moet eers die back­yarders uitsorteer wat daar woon. Hulle gaan nie tevrede wees as ons daarheen moet trek en hulle het nog nie huise nie,” sê Pieters.

Die groep inwoners sê hulle het nie die brief geteken nie en sal wag totdat die munisipaliteit weer met hulle kontak maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters