2 maande gelede
‘Nog vroue se lyke kan kom’
graf: Die gat waarin die oorskot van Natalie Jonkers gevind is.  ~ 

SOOS die lyke ophoop, weet Natalie Jonkers se ouers nog nie haar oorskot is van die vele wat klaar in Wellington opgegrawe is nie.

Gerugte wil dit hê dat nog sowat 12 lyke opgegrawe moet word, wat die totaal op 15 te staan kan bring.

Johan Williams, die vermeende Wellingtonse reeksmoordenaar, het dit glo aan die polisie onthul.

’n Ingeligte in die binnekring van ’n organisasie wat na vermiste persone soek, het dít aan Son bekend gemaak.

Die ondersoekbeamptes in die saak is nou op soek na die databasis van vroue wat sedert 2012 vermis word, beweer die ingeligte.

Toe Son die ouers van Jonkers op die plaas On­gegund besoek het, was hulle geskok nadat hulle in Son gelees het hul kind se oorskot is Donderdag gevind. Sy het ses jaar gelede vermis geraak.

Jonkers se ma, Klara Davids, se woorde was: “Ek het dan nog gedink my kind lewe. Die polisie was nog nie hier om enigiets aan ons te sê nie.”

Volgens Davids het Wil­liams ’n obsessie gehad met Jonkers se dogter, wat nou sy girlfriend is.

Davids sê Wil­liams het hulle destyds gedreig oor hy nie Jonkers se dogter kon kry nie. Sy sê sy vermoed dis hieroor dat hy Jonkers in ’n lokval gelei het.

Williams het destyds glo aan Jonkers gesê hy ken iemand wat haar met geld kon help om haar skuld te vereffen. Sy is glo saam met hom daar weg om die geld te gaan haal en het nooit teruggekeer nie.

Davids vertel: “Hy het eers haar man se huis aan die brand gesteek, toe ons s’n. Daarna het hy nog een van die inwoners se huis aan die brand gesteek.

“Hy’t Natalie gedreig dat as sy nie haar dogter vir hom gee nie, gaan hy ’n spyker in haar kop kap dan is sy ’n tonzela, wat beteken ’n tipe zombie in witchcraft.”

Davids sê kort nadat Jonkers vermis geraak het, het Williams haar dogter gevat.

Verdagte: Johan Williams by sy eerste verskyning in die hof verlede week in Wellington.
skok: Rubin Jonkers, die eggenoot van Natalie, staan by Klara Davids, haar ma.Foto’s:PETERABRAHAMS

Selfs Charles Afrika, Williams se vriend, sê hy vind sy optrede vreemd.

“Ek het hom nog gebel en gevra waar hulle is.

“Ek het vir Natalie geld gegee vir twee pakke suiker en gesê hulle moet kom, want ek is lus vir koffie.

“Johan het toe gesê hy soek nou iemand om hulle huis toe te bring en hulle het al die R5 000 gekry. Later, toe ek weer bel, toe sê hy hy weet nie wat van Natalie geword het nie.

“Hy’t gesê hulle het nog so gestaan, toe hoor hy daar skreeu sy en ’n kar jaag weg met haar.”

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig net Chantell Matthysen se lyk is uitgeken. Sy sê die ander twee lyke wat laas week gevind is, moet nog uitgeken word. Volgens Rwexana word Williams tans net van die moord op Matthysen aangekla en nog nie van dié op Maria Isaacs en Jonkers nie.

  • Die polisie het nie kommentaar gelewer op ’n vierde lyk wat Donderdag op ’n plaas gevind is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters