3 maande gelede
Nog ’n pêrel uit Paarl
AMBASSADEUR: Shanesia Ruiters in die Mej. Tiener Statebond-kompetisie.  ~ 

DIE pêrels van die Paarl skitter in modelwerk.

’n Gr. 12-leerder aan die Sekondêre Skool New Or­leans in die Paarl het vroeër vanjaar weggestap met die ambassadeurstoekenning vir 2018-’19 se Mej. Tiener Statebond Suid-Afrika-kompetisie in Johannesburg.

Dit beteken dat sy in die toekoms kan inskryf vir die Mej. Suid-Afrika-titel om die land te verteenwoordig.

Shanesia Ruiters (17) fokus­ al sedert 14-jarige ouderdom­ op modelwerk.

“Ek het my passie gekry van baie mense wat my aanmoedig om deel te neem aan kompetisies en deur modelvertonings te kyk.”

Ruiters sê sy leef haar uit wanneer sy modelwerk doen en dít is hoe sy haarself as mens gevind het.

Haar rolmodel is die Amerikaanse aktrise en sangeres Zendaya Coleman.

Die Mej. Tiener Statebond Suid-Afrika-kompetisie het oor ’n periode van ses maande gestrek.

Deelnemers moes elke maand R1 000 insamel as deel van hulle punte.

Ruiters moes borgskappe kry, gemeenskapswerk doen en klere en kos uitdeel.

Die spontane jong dame se droom is om haar ambassadeurstoekenning te gebruik om haar land te verteenwoordig.

Ruiters sê nou kan sy in Tamaryn Green, voormalige Mej. Suid-Afrika van die Paarl, se voetspore volg. Green was ook ’n leerder aan die Hoërskool New Orleans.

“Ek dink Tamaryn is ’n groot voorbeeld en inspirasie vir al die jong mense,” meen die jong model.

Sy sê Green hou New Orleans se naam hoog.

Sy beskryf haar reis tot Mej. Tiener Statebond Suid-Afrika as ’n ervaring wat haar lewe verander het.

Ruiters se doel was om R6 000 in te samel vir minderbevoorregtes deur gemeenskapswerk te doen en borgskappe te kry.

“Dit was ’n baie moeilike reis omdat ek nie baie hulp gekry het nie, maar dit het my net sterker gemaak.”

Sy wil graag eendag ’n lugwaardin word.

Ruiters se boodskap aan die jeug is om groot te droom.

“Enige iets is moontlik as jy alles insit. Glo in jouself en volg jou hart.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters