7 dae gelede
‘’n Stukkie lyf vir verblyf’
kroos: Rachel Muller sê sy en haar kinders moet nou by vriende op die vloer slaap.  ~ Kallie Smit

PORTERVILLE. – ’n Stukkie lyf vir haar verblyf.

Só, beweer ’n vrou, het haar landlord sy betaling gesoek.

Maar Kobus de Klerk (62) sê Rachel Muller (37) se aantygings teen hom is leuens.

Muller sê De Klerk se familie het haar in hul oor­lede ouers se huis gesit oor die plek leeg gestaan het.

Sy vertel: “Kobus het laat laas jaar uit die stad gekom om my uit te sit. Hy sê toe hy’t nie geweet hier bly so ’n mooi vrou in die huis nie.

“Hy’t vir my en my kinders luxuries gekoop en toe vra hy of ek nie sy meisie wil wees nie, maar ek sê toe nee. Toe raak hy kwaad en sê ek moet f*kk*f uit die huis uit.”

Muller sê De Klerk het later by die huis ingetrek terwyl sy na ’n siek vriendin in Gouda omgesien het.

“Toe ek uit Gouda terugkeer, het van my goed buite gelê en van my meubels was stukkend. Ek het ’n saak gemaak teen Kobus oor my meubels en oor hy my uit die huis wou sit.

“Ons het op 1 September in die hof verskyn, maar die saak is uitgestel tot 29 September sodat hy vir hom regshulp kan kry. Die hof het gelas dat ons in die huis kan aanbly,” sê Muller.

“Ek en my vier kinders en kleinkind het toe in die een kamer ingetrek en Kobus in die ander een in, maar toe maak hy die lewe vir ons ondraaglik. Ons kon nie vriende op die jaart bring nie, die ligte en TV moes teen 19:30 af wees en nóg ’n klomp belaglike reëls.

“Hy het ook gesê ek roep hom as ek kaal is. Ek het ’n teisteringsbevel teen hom gekry, maar ons kon dit later nie meer uithou onder hom nie. Toe gaan bly ons by ’n vriendin van my.

“Ons slaap in die sitkamer op die vloer, want ál ons goed is nog in die huis.”

Terwyl Son met De Klerk gesels, staan Lilly Cloete en Katriena Verhoog, twee buurvroue, nader.

Kwaad

Cloete (81) kla terwyl Verhoog als bevestig: “Genoeg is genoeg. Daai vrou (Muller) vertel leuens. Kobus se neef het haar in die huis gesit oor haar dogter met dié se seun uitgegaan het.

“Sy’s kwaad oor Kobus nie wou toelaat dat haar kêrel saam met haar slaap nie. Sy lieg vir die polisie en sê die man sit en suip saam met sy vriende in die huis.

“Kobus het baie by my gekla hy kan nie sy Bybel lees nie oor die geraas in die huis. Sy’t self vir my gesê Kobus het baie ordentlik met haar gepraat toe hy die eerste keer by haar kom.

“Dit was ’n plesierhuis voordat Kobus ingetrek het. As sy ma moes weet wat als in haar huis aangaan, het sy in haar graf omgedraai!”

De Klerk sê: “Sy het self getrek. Sy het doodsdreigemente teen my gemaak, gevloek en geskel en sy het glad geskree sy staan kaal in die kamer.

“Ek is op chroniese medisyne en het in my ma se huis kom bly oor ek ’n gelowige is en rustigheid wou hê. Elke keer kom staan die polisie-vên hier asof ek ’n misdadiger is. Ek gaan dié saak op die hof klaarmaak sodat my naam kan skoon kom.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters