13 dae gelede
’n Seer saak
GEGRIEF: Sabina Fortuin vertel mense wat ook in die straat was, moes haar help en toe met ’n kar huis toe vat oor sy weens die aanranding nie kon loop nie.  ~ Peter Abrahams

CERES. – ’n Vrou se been én lewe is permanent geskend nadat ’n sekuriteitsbeampte haar na bewering aangerand het.

En dít alles oor sy nie ’n masker gedra het nie.

Sabina Fortuin (52) van Prins Alfred Hamlet sê sy kry steeds nagmerries nadat ’n sekuriteitsbeampte van die Mafoko-sekuriteitsmaatskappy haar laas maand in die straat aangeval het.

Dié maatskappy is deur die Witzenberg-munisipaliteit aangestel.

Sabina het aan Son gesê sy onthou die nare voorval nog soos gister omdat dit elke dag in haar kop afspeel.

Volgens haar was sy op die dag van die voorval op pad na haar vriendin.

Fortuin onthou: “Ek het net gehoor hoe die mense skreeu: ‘Hie’ kom hulle!’

“Ek raak toe aan die hol en ek gly.

“ ’n Wit taxi het voor my stilgehou en ’n sekuriteits­beampte het uitgespring.

“Hy raak toe net aan die trap en die ander hol weg.

“Drie ander sekuriteits­beamptes het hulle agternagesit.

“Toe hy op my afstorm, was ek nog besig om my masker op te sit. Soos hy my trap, sê hy: ‘Voertsek, jou teef!’

“Hy het my vier keer getrap en sy spoor het nog op my been gelê.”

Volgens Sabina was daar mense in die straat wat haar gehelp het en met ’n kar huis toe gevat het oor sy nie kon loop nie.

Haar skoondogter Elizma Fortuin het aan Son gesê toe haar skoonma by die huis aankom, was sy baie geskok.

Sy het onmiddellik die polisie gekontak sodat hulle die ambulans kon ontbied, vertel sy.

Volgens Elizma het hulle sowat drie ure gewag vir die ambulans en toe hulle nie opdaag nie, het ’n buurman Sabina hospitaal toe geneem.

Elizma vertel: “Hulle het X-strale geneem en gesien haar been is op twee plekke gebreek.

“Hulle het haar vir twee dae in die hospitaal gehou en in daardie tyd het sy al agt verskillende gipse opgehad.

“Daarna is sy na die Ceres-hospitaal oorgeplaas. Toe sy daar kom, het ek vir hulle gesê hulle beter iets met die been doen en nie net weer ’n gips opsit nie.

“Sy is geopereer en die dokters het twee penne en twee skroewe in haar been gesit wat vir die res van haar lewe daar moet bly.”

PERMANENTE SKADE: Fortuin sal nou lewenslank penne in haar been moet verdra. Foto: Verskaf

Volgens Sabina het sy ’n saak gemaak en ook ’n verklaring by die polisie afgelê.

Die speurder in die saak het egter net gesê die Mafoko-sekuriteitsmaatskappy kan nie sê wie daardie spesifieke dag aan diens was nie.

Sabina sê sy voel die man wat haar aangerand het, moet boet vir sy dade.

Verloor

Sy sê sy is só erg in pyn sy voel om selfmoord te pleeg.

“Ek’s sommer lus en sluk ’n klomp pille. Ek ken nie dit nie. My man is al ses jaar oorlede en hy’t nog nooit aan my geraak nie.

“Ek het my werk verloor en ek sal seker nooit weer kan werk nie.

“Hier is nou geen inkomste in die huis nie.”

Koos Bantam, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum, het aan Son gesê hierdie is nie die eerste voorval waar mense deur Mafoko se sekuriteitsbeamptes aangerand is nie.

Volgens Bantam is dit die tweede voorval, maar Sabina sê daar was nóg een.

Bantam sê: “So ’n insident is onaanvaarbaar!

“Hulle kan nooit ons community so traumatiseer nie. Hierdie vrou se lewe is geskend. Hulle is hier om met veiligheid te help, maar maak victims van die mense.

“Ek sal seker maak hierdie goed gebeur nie weer nie.”

Toe Son Mafoko se kantore besoek, was hul operations supervisor, Babalwo Ntonga, beskikbaar.

Sy was baie geskok toe sy van die voorval te hore kom.

Ntonga het gesê dit is ’n groot teleurstelling.

Sy het sommer onmiddellik die supervisor van die riot-span gebel wat in beheer van die sekuriteitsbeampte is wat Sabina aangeval het.

Toe hy by die kantoor opdaag, was hy baie arrogant en wou nie sy naam verskaf nie.

Hy het gesê hy het reeds vir die speurder gesê hy weet nie wie daardie dag aan diens was nie.

Verwittig

Hy het verder gesê hul prokureurs behartig nou die saak.

Toe Son vir Monwabisi Mpeluza, die Witzenberg-munisipaliteit se direkteur van korporatiewe dienste, bel, het hy gesê hulle is nog nooit van die voorval in kennis gestel nie.

Mpeluza sê die polisie sou hulle lankal van die saak verwittig het.

Hy het verder bevestig Mafoko is deur die munisipaliteit gekontrakteer.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters