24 dae gelede
’n Klomp close vrinne sterf op een dag
SAL ONTHOU WORD: Roslin Absolon (links bo), Aubrey Michaels (middel), Enrico Regue (regs bo), Joanie Anthony (links onder) en Joslin Johnson is onlangs oorlede.  ~ Foto Verskaf

ROBERTSON. – “Ek’s bang om dood te gaan.”

Dís die woorde van Titus Jansen, wat positief getoets is vir Covid-19.

Jansen, ’n amptenaar by die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), het met die aanbreek van lockdown reeds in die sosiale media duidelik uitgestippel die nuwe corona-virus is lewensgevaarlik.

“Mense maak asof dit nie bestaan nie en gaan normaal aan,” sê ’n bekommerde Jansen.

Jansen sê hy weet nie waar hy die virus opgedoen het nie.

“Dit kon moontlik by die werk of in ’n winkel gewees het waar ek in aanraking met iemand was.”

Volgens Jansen het hy ’n paar weke gelede begin sleg voel.

Hy het ’n keelseer begin ontwikkel.

Jansen sê hy was nog buite ’n supermark op die parkeerterrein toe hy skielik baie sleg voel.

“My bene was swak en ek het toe gaan slaap,” vertel Jansen verder.

Hy voeg by hy moes die hele tyd die sweetdruppels van sy voorkop afvee.

Jansen sê toe hy daar wakker word, was sy hele lyf seer.

“Ek kon skaars opstaan.

“Ek het toe Kentucky geëet, maar kon niks proe nie.”

Jansen sê hy is onmiddellik hospitaal toe, waar hy hom laat toets het.

Hy het sy uitslae Woensdag gekry en homself gevolglik afgesonder.

“Ek het my status op Facebook gesit sodat mense kennis kan dra dat ek positief getoets is en my moet isoleer,” sê Jansen ernstig.

Afgestaan

Hy benadruk mense moet die virus ernstig opneem, want dit eis vinnig lewens.

Intussen is die dorpie in rou gedompel nadat dit op een dag ’n klomp close vrinne aan die dood afgestaan het.

Hulle is Aubrey Michaels (59), kringbestuurder van die WKOD in die Langeberg-streek, en die oud-onnie Joanie Anthony (65). Haar man, Steven Anthony (58), is verlede maand as gevolg van ’n hartaanval oorlede.

Die voormalige ambulansvrou Joslin Johnson (51), die naaldwerkster Roslin Absolon en die maatskappy-rep Enrico Regue (37) is ook op dieselfde dag oorlede.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters