12 dae gelede
’n Jong gesin verloor alles
Platgeslaan: Chanique Fredericks en haar seun, Shaurick, het alles in die brand verloor.  ~ Foto’s: Enrico Claassen

WORCESTER. – ’n Getraumatiseerde vierjarige seuntjie wat hulpeloos moes toekyk hoe sy ouerhuis tot op die grond afbrand, het ná die voorval van skok aanhoudend die Onse Vader-gebed in sy slaap opgesê.

Shaurick Fredericks (4) was alleen in hul hok in Paulstraat, Roodewal, toe die brand Saterdag kort ná 13:00 uitgebreek het.

Sy pa, Ishaan (23), het enkele minute voor die brand die huis verlaat om gou iewers heen te gaan.

Shaurick se verslae ma, Chanique (24), sê sy was ten tyde van die brand nog by die werk.

Volgens haar het ’n kollega se ma die kollega gebel en dié meegedeel dat ’n huis in Paulstraat brand.

Sy sê toe die kollega vir haar vertel die huis is oorkant ’n spesifieke buurvrou se huis, het sy geweet dis heel waarskynlik hul hok wat brand.

“Ek was skielik net lam en het aanhoudend gehuil. Ek wou net die heeltyd weet waar my kind is.”

Volgens haar het een van die drivers by die werk haar toe huis toe geneem.

Fredericks sê sy kon nie ophou huil toe sy sien daar het niks van hul sinkplaatwoning oorgebly nie.

Volgens haar het Shaurick aan haar vertel dat hy in die sitkamer gesit het toe hy skielik ’n harde klapgeluid hoor.

Sy sê toe hy na die kamer hardloop om te gaan kyk wat aangaan, het vonke uit een van die plugs geskiet waar ’n music box besig was om te charge.

Die brandweer was gou op die toneel en brandbestryders het die vlamme in ’n japtrap geblus.

Volgens Fredericks het hulle alles in die brand verloor. Sy sê tot die splinter­nuwe wasmasjien, yskas, en microwave wat die gesin onlangs gekoop het, is tot niet.

Sy sê hulle het jare lank in die sinkhok gewoon.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters