16 dae gelede
Muur val op seuntjie (4)
BEDROEF: Genéve Maart en haar ander twee spruite, Michelle en Mikhail, kan steeds nie glo Michael is nie meer met hulle nie.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – ’n Vierjarige seuntjie het Saterdagaand aan die hand van die natuur gesterf toe ’n sterk wind ’n muur omgewaai en dit op hom beland het.

Michael Maart se emosionele daddy, Mitchel Maart, sê hy en sy gesin het nog die middag by vriende gekuier.

Mitchel vertel hy het toe besluit om ’n bietjie by sy huis te gaan rus en daarna terug te keer om sy gesin te gaan haal.

Hy vertel hartseer: “Ons het toe teruggery huis toe. Ons het nie verwag dat die ergste ons sou tref nie.”

Volgens Mitchel het hy sy bakkie in die driveway getrek en hulle het uitgeklim.

Almal het nog voor die fence gestaan.

Mitchel verduidelik hy is besig om ’n dubbelverdiepinggebou by sy bestaande huis aan te bou.

Die werk is nog nie afgehandel nie.

Volgens Mitchel het die wind kort voordat hulle by die huis sou inloop baie sterk gewaai.

Dis toe dat die muur na benede tuimel.

“Ons het gehardloop toe ons sien die muur gaan op ons val, maar ons seuntjie was te stadig,” vertel Mitchel.

OORSAAK: Die muur van hierdie aanbouing het op Michael geval toe die sterk wind dit omwaai.

Volgens die bedroefde pa het hy sy gesin nog gevra of hulle orrait is.

“My vrou het gevra waar Michael is,” onthou Mitchel hartseer.

“Ek het hom tussen die bakstene gekry, opgetel en ons het hospitaal toe gejaag.

“Michael het nog asemgehaal, maar ek het gesien daar is bloed aan sy agterkop.

“Ek is saam met hom in by die hospitaal se ongevalle-eenheid, maar kort daarna het ’n dokter kom sê dat Michael dood is.”

Die verpletterde pa sê hulle gaan die seuntjie verskriklik baie mis.

Bedrywig

“Hy het nog uitgesien daarna om volgende jaar na sy nuwe skooltjie te gaan.

Klein Michael se mammie, Genéve, sê haar klonkie was die week voor sy dood baie bedrywig en opgewonde.

“Dit was nogal vir ons vreemd. Hy (Michael) het nog gesê ek moet sy Spider-Man-klere bymekaarmaak.”

Volgens Mitchel het Michael onlangs ’n kraan se kop morsaf gebreek, een van die huis se ruite uitgegooi en van die bakkie se liggies flenters geslaan.

“Dis asof hy sy merk wou maak. Ons gaan daai skade net so los, want dis vir ons memories van hom.”

Michael word voorlopig Saterdagoggend vanuit Jubelstraat 25 begrawe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters