10 dae gelede
Munisipaliteit se hulp ‘traag’
SKADE: ’n Shack in wyk 16 in munisipale gebied van Drakenstein is onder water.  ~ Foto Verskaf

DIE die ergste van die ergste.

Só word die omstandighede van mense in sommige plakkerskampe in die Paarl beskryf.

Die Wes-Kaapse EFF se adjunkvoorsitter, Nosipho Makamba-Botya, die EFF-sekretaris in die Kaapse Wynland-streek, Avuyile Twenisi, en ’n EFF-raadslid in die Stellenbosch-munisipaliteit, Clint Davidse, het die afgelope naweek wyk 16 van die Drakenstein-munisipaliteit besoek.

Davidse sê hulle was in die area om die skade te assesseer wat die onlangse vloede veroorsaak het.

Volgens hom bly mense daar onder die haglikste omstandighede.

Hy sê: “Ek was al by baie plakkerskampe gewees, maar ek het nooit so iets gesien nie. Dis die ergste van die ergste. Dis eintlik naar om te sien hoe ons mense suffer.

“Dit het my hart gebreek om te sien hoe kinders en bejaarde mense onder sulke omstandighede lewe.

“Dit maak my kwaad om te sien dat die politici, selfs die munisipaliteit, te traag is om ons mense te help.”

Die uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die munisipaliteit, Gerald Esau, sê die areas wat die ergste geraak is, is die Chester Williams- en Loverslane-plakkerskamp, sowel as Drommedarisstraat naby Langabuya.

Sandsakke

Sommige privaat eiendomme in Donkervlietstraat, Rygerstraat in Lantana en Moonlightstraat het ook ligte vloede ervaar, sê Esau verder.

Hy verduidelik die huise wat geraak is, het sandsakke van die munisipaliteit ontvang om die impak van die vloede te verlig.

Esau vra egter inwoners om “proaktief” te wees deur kanale vóór die reëns­ te grawe.

Hy sê die gereelde skoonmaak van stormwaterdreine kan ook help om vloedskade te verminder.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters