8 dae gelede
Moordverdagte worry oor kroos
TONEEL: Die kleuter is hier dood aangetref.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Die ma en stiefpa wat van die moord op hul driejarige dogtertjie aangekla word, moet agter tralies bly.

Toe borgtog gister geweier is, het die stiefpa net sy kop geskud.

Son het vroeër berig oor die stiefpa en die kind se biologiese ma wat die arme tenger kind na bewering doodgeslaan het.

Forensiese patologiese uitslae het daarop gedui dat die kind met ’n voorwerp doodgeslaan is.

Die tragiese voorval het omstreeks drie weke gelede in die gesin se sinkhok in Mullerstraat plaasgevind.

Hulle het aan die polisie gesê die kind het haar op ’n klip doodgeval.

Die stiefpa het aan die hof gesê hy het reeds twee misdrywe op sy kerfstok.

Die een misdryf was inbraak en die ander is toe sy eks-girlfriend ’n hofbevel teen hom uitgeneem het oor hy haar drie keer met ’n paal oor die rug geslaan het.

Die staat wou weet waarom hy borgtog moes kry.

Sy antwoord was dat hy nog drie minderjarige kinders het vir wie hy moet sorg.

Hy het ook telkemaal daarop gehamer dat hy nie die moordsaak op hom gaan vat nie.

Hy het ook aan die hof gesê dat hy bitter graag sy drie kinders onder sy toesig wil hê, want sy eks-girlfriend is ’n tikkop. Die kids is nou in haar sorg.

“Ek weet nie hoe dit op die oomblik met my kinders gaan nie,” sê hy.

Sers. Carlton Steenberg, die ondersoekbeampte, het getuig dat die patoloog die saak na ’n moordsaak verander het nadat hy die geregtelike doodsondersoek gedoen het.

Gewelddadige

Steenberg sê hy het ook verklarings gekry van mense wat sê hoe hulle soms gehoor het hoe die stiefpa die kind aanhoudend slaan en op haar vloek.

Volgens Steenberg beskryf mense die beskuldigde as ’n gewelddadige mens en daarom moet hy borgtog geweier word.

Die kind se ma het aangedui dat sy nie om borgtog gaan aansoek doen nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters