Verlede maand
Moord ruk vriende erg
VERMOOR: Reagan Gertse se lyk is Sondag gekry.  ~ Foto Verskaf

TULBAGH. – Die gemeenskap is in oproer ná die moord op ’n jong seun.

Hulle wil hulle ontsteltenis pad toe vat en betoog by die eerste hofverskyning van die vermeende moordenaar.

Reagan Gertse (8) se halfnaakte lyk is Sondagoggend tussen bosse aan die buitewyke van die middedorp gevind.

Die toneel is sowat 100 m van die naaste woonbuurt.

Daar was ’n oop wond aan die agterkant van sy nek. Hy is vermoedelik gesodomiseer.

Reagan se maatjies het in trane uitgebars terwyl sy beste vriend, Mikyl Otto (11), Son vertel het van die laaste keer dat hy en Kelly Andrews (7) Reagan gesien het.

Faith Geduld (13) moes haar maatjie Quanay Booysen (7) troos toe dié begin huil terwyl Mikyl met Son oor hulle maatjie gepraat het.

Reagan het kort voor sy dood nog saam met Quanay haar sussie se eerste verjaardag gevier.

Klein Mikyl vertel: “Ek en Kelly het uit die dorp gekom toe ons vir Reagan saam met ’n oom sien stap. Ek ken die oom goed.

“Ek roep toe vir Reagan. Toe hy na my toe kom, pluk die oom hom terug en stap met hom dorp se kant toe. Hy was my beste maat.”

VERPLETTER: Ricardo Davids en Louisa Gertse treur oor die dood van Reagan Gertse.

Ricardo Davids (28) is Reagan se ma, Louisa Gertse (29), se kêrel.

Davids sê hy het Saterdagaand na Reagan gaan soek toe hy by 21:00 nog nie by die huis was nie.

Mikyl het Davids gaan wys wie die man is.

Davids was geskok toe hy uitvind dié man is sy ma se swaer wat by haar en haar man bly.

Jakobus Petoors (59) is Sondagoggend gearresteer.

Petoors is sowat vier maande gelede op parool vrygelaat nadat hy 7 van sy 14 jaar uitgedien het vir die verkragting van ’n kind.

’n Soektog na Reagan is Sondagoggend geloods.

Sy liggaam is gou opgespoor.

Davids en sy vriend Hendrik Swems (45) het eerste op Reagan se lyk afgekom.

Die polisie, sy ma, vriende en maatjies het aan die soektog deelgeneem.

Davids vertel: “Reagan het op sy maag gelê. Ek het ’n oop wond aan die agterkant van sy nek gesien en geweet hy’s dood.

”Sy broek was tot by sy enkels afgetrek en sy sweater opgetrek. Ek wou nie hê sy ma moes hom so sien nie.”

Uitgeken

Toe Petoors oor Reagan se verdwyning gekonfronteer is, het hy na bewering gesweer dat hy van niks weet nie.

Mikyl het hom egter positief uitgeken en ook die klere wat hy aangehad het.

Davids se ma het glo vertel Petoors het dié klere gewas toe hy Saterdagaand by die huis gekom het.

TONEEL: Ricardo Davids en Hendrik Swems wys vir Son waar Reagan se lyk gevind is.

Die polisie het na bewering ook stukke van Petoors se vingernaels, wat hy by sy blyplek geknip het, as bewysstukke gevat.

Die gemeenskap soek vergelding vir Reagan se dood.

“Hy (die verdagte) moenie borgtog kry nie.

“Hy is nie geworry nie, want een van die dae lewe hy weer lekker in die tronk en kry als verniet,” het Swems uitgevaar.

Louisa is gebroke: “Toe hulle hom vind, het ek gebid dat my kind sou leef.

“Hy was ’n lieflike kind wat grootmense gerespekteer het.”

Die polisie ondersoek klagte van moord en ontvoering teen Petoors. Hy is in aanhouding.

Nog klagte kan moontlik bygevoeg word ná afloop van die geregtelike doods­ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters