Verlede jaar
Moord: ‘ou bieg aan ma’
moordtoneel: Die liggaam van Nicola Pienaar is hiér gevind. Foto: peter abrahams  ~ 
moordtoneel: Die liggaam van Nicola Pienaar is hiér gevind. Foto: peter abrahams
SLAGOFFER: Nicola Pienaar is na bewering deur haar boyfriend, Jacobus Oosthuizen, vermoor. Foto verskaf

NICOLA Pienaar is glo in haar boyfriend se ma se huis vermoor.

’n Polisiebeampte wat by die ondersoek van die gru-moord betrokke is, het gesê dat hulle bloedspatsels teen die mure gekry het toe hulle ultraviolet-ligte in die huis laat skyn het.

Pienaar se boyfriend, ­Jacobus Oosthuizen (30), wat eers aan die polisie gesê het dat hy haar in Oudtshoorn agtergelaat het nadat hulle gestry het, het na bewering aan die polisie beken hy het haar vermoor.

Oosthuizen het dít glo aan die polisie bekend gemaak nadat hulle hom gearresteer het.

Volgens Paul Scheepers, ’n privaat speurder en ook die eienaar van Eagle Eye Solution Technology, het Ooshuizen eers alles aan sy ma, ­Marietjie, beken en aan haar gesê dat hy Pienaar in hul jaart by hul huis in die Paarl begrawe het.

By Son se besoek aan die huis was die graf in die agterjaart steeds oop en daar het ’n stank uit die redelike diep gat gekom.

Pienaar is deur haar ma, Marlaine Pienaar Vice, ’n sielkundige, op 5 Januarie as vermis aangemeld toe die paartjie op ’n trip gegaan het.

Oosthuizen is in Port ­Elizabeth vasgetrek toe hy in Vice se goue Peugeot geslaap het.

’n Winkeleienaar wat nie ver van Oosthuizen-hulle af woon nie, het aan Son gesê ’n ondersoekbeampte het hom vertel van die bloedspatsels wat teen die mure gevind is.

Die eienaar het gesê: “Ek was so geskok!

“Ek het nooit gedink dat hy so iets aan haar sou doen nie. Hy het gereeld hier ingekom en vir haar blomme gekoop.”

Volgens die winkeleienaar is Oosthuizen se familie maar “messed up”.

“Ek vermoed sy broer verkoop dwelms.”

Scheepers het aan Son gesê dit is te danke aan hom en die Pink Ladies dat Oosthuizen vasgetrek is.

Volgens Scheepers het die polisie Pienaar se saak as ’n vermiste persoon gehanteer en nie as iemand wat moontlik vermoor of ontvoer is nie.

Scheepers het gesê hy is later deur die polisie genader om hulle met die saak te help oor hy hulle onlangs met ’n ontvoeringsaak gehelp het.

Scheepers vertel: “Die polisie het nooit geweet waar hy (Oosthuizen) is nie.

“Ons het vir hulle al die inligting gegee.

“Ons het alles bymekaar gesit en vir hulle gesê waar hulle hom kan arresteer.

“Ons het ’n forensiese ondersoek gedoen om Jaco vas te trek.”

Scheepers vermoed Pienaar is heel moontlik verwurg.

Scheepers het gesê dat Oosthuizen se ­ouers hul volle ondersteuning in die saak gegee het.

’n Polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, het bevestig dat Pienaar se liggaam in Oosthuizen se jaart gevind is.

Van Wyk het bygevoeg die verdagte verskyn môre in die Paarl-landdroshof op klagte van moord, bedrog en motordiefstal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters