23 dae gelede
Met gifts, braai end ’20 op high
AITSA! Kinders ontvang hul heerlike braaipakkies.  ~ Basil Davids

ASHTON. – Kinders van dié dorp het elk ’n heerlike braai- en geskenkpakkie ontvang.

Die afgelope sewe jaar al sorg past. Danny Jansen dat die kids van die dorp ’n week voor Krismis sommer lekker bederf word.

Jansen sê twee hegte vriende, Chantel de Bruyn en haar man, Mario, het die inisiatief geneem om hul gewig in te gooi om elke jaar vir Ashton se kids ’n heerlike braai- en geskenkpakkie te gee.

Vanjaar is 350 kinders gevoed en hulle het ook hul geskenke waardeer. Volgens Jansen het hulle bystand van supermarkte en mense vanuit die vallei ontvang.

Die braaivleis­vure het vanjaar weer hoog gebrand.

Saam met die heerlike geur van braaivleis was daar vreugde in die lug.

Van die mense uit die gemeenskap het ook kom hand bysit om te kom braai en natuurlik heerlike slaaie te berei.

Social distancing is gehandhaaf en die kinders se hande is gesanitise.

HAPPY: Die dorp se kinders geniet elke oomblik van die dag. Foto: Basil Davids

Die pastoor sê alles het goed verloop en daar het nog heelwat kos oorgebly.

Volgens Jansen het hulle van die oorblywende kos aan minderbevoorregtes in die plakkerskamp gaan uitdeel. Die ontvangers was baie verheug en het die mense bedank wat dit gemaak het.

Die De Bruyns is baie bly dat hulle die kinders kon spoil en sê dat hulle volgende jaar weer die kids se hart gaan kom steel.

Die De Bruyns wil almal wat die program ondersteun hartlik bedank dat hulle dit ’n tyd van liefde en gee gemaak het.

BLY FESTIVE: Dit het nie die samehorigheid van Kersfees gespoil dat almal ’n ent uitmekaar moes staan nie. Foto: Basil Davids

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters