20 dae gelede
Mesmoord op ou ruk familie
DOODGELEM: Marquin Baadjies is glo gesteek oor ’n girl.  ~ Foto Verskaf

TULBAGH. – Wat veronderstel was om ’n tyd van vreugde te wees, het in ’n tyd van hartseer verander nadat drie familielede kort ná mekaar gesterf het.

Marquin Baadjies (22) is Sondag ná ’n woordewisseling doodgesteek.

Marquin se oupa, Jan Mias Klein (82) is twee weke gelede begrawe en sy oom Frikkie Baadjies (67) is ’n dag ná Marquin se moord oorlede. Albei die bejaardes was siek.

Marquin se ouma Alida Klein (72) sê: “My man het meer as sewe jaar hartprobleme gehad en hy was die laaste paar maande baie siek, so ons het sy dood verwag. Hy is op sy verjaardag dood.

“Marquin se dood was baie erger vir my. Ons was baie na aan mekaar en ek kan dit nie verwerk nie.”

Baadjies se pa, Andries, (68) en ma, Magrieta, (48) sê dit is vir hulle ook moeilik.

Andries sê aan Son: “Ek het van Sondag af nog niks geslaap nie.

“Ek en my dogter verjaar albei hierdie week, maar in plaas van uitsien om dit te vier, moet ons nou reëlings tref vir my seun en broer se begrafnis.”

Andries sê hy het verneem dat die stryery tussen sy seun en sy aanvallers blykbaar oor ’n meisie gegaan het.

Hy sê: “Daar was nie eens iets soos ’n verhouding tussen my seun en die meisie nie.

“Dit (die moord) was ’n sinlose daad wat ons lewe tot stilstand gedwing het.

“Ons weet nie hoe ons hierdeur gaan kom nie.”

Magrieta sê: “Ek kan die gevoel van my seun se dood nie beskryf nie.

“Dit voel nie vir my soos die werklikheid nie.

“My kind het nog gelewe nadat hy gesteek was.

“Die ambulans het baie lank gevat om te kom. Marquin was reeds dood toe hulle opdaag.”

Twee mans, onderskeidelik 19 en 20 jaar oud, is in aanhouding vir die moord op Marquin.

Oorleef

Son het verneem dat die staat borgtog vir die twee beskuldigdes gaan teenstaan wanneer hulle op 16 September in die hof verskyn.

’n Vriend wat saam met Marquin was, is ook in die arm en kop gesteek, maar hy het die aanval oorleef.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters