4 dae gelede
Mense staan Touw vir ’n ete
MAGIES VOL: Lede van die uitreikgroep deel kos uit.  ~ Jan Swarts

TOUWSRIVIER. – Die Engelse sê: “Charity begins at home.’’

Dis hoekom ’n groep oudinwoners van Touwsrivier saamgespan het om hul hartsaak ’n liefdestaak te maak.

Sedert die begin van die pandemie het baie inwoners hul werk en inkomste verloor. Hulle moet nou noodgedwonge in ’n ry gaan staan vir kos.

“Hier is groot nood. Dis hoekom ons besluit het om terug te ploeg in die gemeenskap,” het Farrel Pharo, ’n polisieman wat al vir 30 jaar in die Kaap woon, Saterdag gesê toe die Touwsrivier-Uitreikgroep saam met ’n bou­firma ’n smile op honderde inwoners se gesig gesit het.

’n See van mense en kindertjies het by Steenvliet Primêr saamgekom om warm kerrie en lekkergoed-pakkies te ontvang. Die Touwsrivier-Uitreikgroep befonds reeds nege sopkombuise in verskillende woongebiede.

Grandma Construction, wat deur die groep genader is om ’n vennoot te wees in toekomstige projekte, het die harte van die gr. R’tjies bly gemaak met die oprigting van ’n nuwe jungle gym.

Die projek geniet steun van professionele mense soos verpleegsters, onderwysers, polisielede en gewone mense wat graag die basiese behoeftes in die gemeenskap wil takel.

’n Nuwe infrarooi-termometer en ’n sanitasie-staander is aan De Kruine Sekondêr en kos is aan die Monica Grové-kleuterskool geskenk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters