Verlede maand
Mense sien hoe cop-vên kind tref
Toneel: Dit is hier op die sypaadjie waar ’n vangwa glo in die 15-jarige Thristen Muller vasgejaag het.  ~ _BASIL DAVIDS

ROBERTSON. – ’n Cop is diep in die sop nadat hy na bewering ’n seun met ’n polisie-vên omgery het.

’n Ooggetuie beweer die cop het aan die verkeerde kant – en boonop op die sypaadjie – gery toe hy die kind getref het.

Die voorval het Donderdag kort ná 20:00 in Wesleystraat voor ’n spaza shop gebeur.

Volgens die ooggetuie het hy die vên kort ná die voorval met sy kar agternagesit.

Die ooggetuie sê die vên het nie stilgehou nie en het vinnig in die pad af gejaag, terwyl hy hom agternagesit het.

Veg

“Die vên het oor elke stop gejaag en ek kon die vên nie ingery kry nie,” vertel die ooggetuie.

Paramedics het die 15-jarige Thristen Muller na ’n hospitaal vervoer.

Son verneem Thristen is later opgeneem in ’n hospitaal in Kaapstad, waar hy tans om sy lewe veg.

Sy daddy, Damian, sê hy het Thristen winkel toe gestuur en later gehoor Thristen is omgery.

Muller sê Thristen het baie ernstige beserings opgedoen.

Hulle bid hard dat sy seun dit sal maak.

Son verneem die cop in die vên moes iemand in Montagu gaan aflaai.

Volgens die vên se GPS-stelsel was die vên nooit in Robertson nie.

Son verneem Worcester se polisie het die Robertson-polisiestasie later in kennis gestel daar staan ’n vên op hul perseel wat gestamp is.

Missing

Niemand weet nou glo wie die betrokke vangwa uitgeboek het nie. Die vên se sleutels is ook missing.

Die polisie ondersoek tans ’n saak van roekelose en nalatige bestuur.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters