2 maande gelede
Mense ontevrede oor nuwe gemeenskapsaal
ontevrede: Eric van der Merwe op die grond waar die gemeenskapsaal nou gebou word.Foto: JONATHAN LESTRADE  ~ 

’N GEMEENSKAPSAAL word nou in Riebeek-Kasteel gebou en die gemeenskap is na verneem word nie daaroor ingelig nie.

’n Gemeenskapsleier in Riebeek-Kasteel, Eric van der Merwe, en nog inwoners sê daar is nooit met hulle oor die saal gekonsulteer nie.

Die Swartlandse munisipaliteit is besig met die bou van die saal in Esterhof.

“Die gemeenskap is ongelukkig omdat geen insette van ons gevra is nie. Ons sou almal ’n Thusong Centre wou hê waarin daar ’n biblioteek, kantore van Sassa, maatskaplike werkers, home affairs en labour is wat die gemeenskap benodig.

“Met dié dienste beskikbaar, kan ons mense elke dag gesien word,” sê Van der Merwe.

Hy sê in die Paarl en Mbekweni is daar Thusong-sentrums.

“Ons mense word afgeskeep. Die DA kry skoon oudits, maar ons inwoners hier kry niks.”

Afgeskeep

Desiree Bess, ’n wyksraadslid van Riebeek-Kasteel, sê daar is vergaderings gehou en net ’n paar mense het opgedaag.

“Die gemeenskap het afgeteken op die saal. Dit gebeur baie dat die raadslid ’n vergadering roep, maar die mense stel nie belang nie.”

Bess sê die projek oor die saal kom al lank aan.

“Ons gaan ook plek maak vir ’n Thusong Centre en ’n ECD Centre. Daar moet eers begroot word vir alles.”

Sy sê ook haar deur staan oop vir almal.

Joggie Scholtz, Swartland se munisipale bestuurder, sê kommunikasie is baie keer ’n uitdaging.

“Ons werk saam met die wyks­komitee en hulle werk met die gemeenskap.

“Ons het geld beskikbaar gestel vir die projek oor twee finansiële jare en dit beloop R3,5 miljoen.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters