29 dae gelede
Mense jubel oor oorskot
hulde: Ds. Reginald Boesak het tydens die seremonie hulde gebring aan Koos Sas.Foto’s: BASIL DAVIDS  ~ 

MONTAGU. – Die mense van dié dorp jubel nadat hulle 50 jaar gewag het om uiteindelik die oorskot van ’n voorvader te ontvang.

In ’n onlangse seremonie in die plaaslike museum het die Wes-Kaapse LUR vir sport en kultuur, Anroux Marais, die oorskot van die San-leier Koos Sas aan die gemeenskap oorhandig.

Sas was ’n San-voorvader wat destyds op Touwsrivier gebore is. Sy oorskot is vir jare in ’n museum uitgestal.

Hy het in die 1900’s na Montagu geloop en hom hier kom vestig.

Sas is in die verlede uitgebeeld as ’n moordenaar en ’n groot skelm wat gedurig met die gereg gebots het.

Daar is ook gesê Sas was ’n slim man wat nooit gelag of gehuil het nie.

Hy het na bewering nie ’n bang haar op sy kop gehad nie en kon ’n perd meters ver uithol.

Boere se vee het omtrént deurgeloop soos Sas die vee keelaf gesny het en aan sy mense voorsien het.

Ontsnap

Dit het van hom ’n ware chief gemaak wat nooit geskroom het om sy broeder en suster uit die nood te help nie.

Sas was bekend in Montagu en omliggende omgewings as ’n skaapdief.

In 1917 is hy skuldig bevind aan die moord op Boetatjie Botha, maar het op pad na sy verhoor in Worcester daarin geslaag om te ontsnap.

Hy het die gereg vir vyf jaar ontwyk, maar is toe in Springbok, sowat 600 km vanaf Montagu, doodgeskiet.

Ds. Reginald Boesak van die Hessekwa Council of Chiefs het in sy toespraak gesê Sas het wreed gesterf.

Sas se skedel is later in die 1970’s na die Montagu-museum gebring, maar daar hang steeds vrae oor wat van die res van sy liggaam geword het.

Spook

Die alombekende David Kramer het tydens die event ook ’n tribute gebring deur die song “Ballade van Koos Sas” te perform.

Kramer sê toe hy destyds die museum kom besoek het, het die skedel hom baie gefassineer.

Kramer sê Sas het so by hom kom spook dat hy genoodsaak was om ’n liedjie te skryf.

Sas se oorskot word op 18 April in ’n seremonie op die dorp ter ruste gelê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters