14 dae gelede
Mense goed suur oor ‘rivier’
ONGESOND: Zoliswa Mantshi wys hoe loop die drein voor haar deur oor.  ~ Verskaf

WORCESTER. – Mense van hier is hoogs de hel in oor toilet-afval in strome in die strate afloop.

Inwoners van Avian Park kla dreine wat oorloop, maak hulle siek en hulle sukkel om die munisipaliteit te kry om aandag aan die probleem te gee. Zoliswa Mantshi is radeloos. Sy hoop daar gaan spoedig iets aan die probleem gedoen word.

Mantshi sê: “Ons het die munisipaliteit baie mooi gevra om te kom kyk na die probleem, maar hulle kom nie. Die k*k lê voor die deur by my huis.

“Ons het klein kindertjies wat gaan siek raak.

“Ons het al meer as ’n week gelede die munisipaliteit gebel om uit te kom.

“Ek het ’n toilet, maar ek kan dit nie gebruik nie. Die stront stoot op in die pot wanneer ons die toilet flush.

“Ons moet in die bos gaan sit wanneer ons toilet toe wil gaan en dis baie gevaarlik hier.”

Desiree Judge, ’n komiteelid vir wyk 21, sê sy kry self al gesondheidsprobleme as gevolg van die rioolafval wat so by die dreine uitborrel.

“Die stank is ondraaglik. Plek-plek is die strate so oorstroom dat ’n mens skaars daar kan loop.

“Die gemors hou ’n gesondheidsgevaar in en dit maak al gate in die strate.

“Ek kry al maagkrampe en ek wil nie eens dink wat dit aan die kinders kan doen nie,” sê Judge.

Judge sê as komiteelid het sy meer as ’n week gelede al die probleem onder die wyks­raadslid, Torique Wehr, se aandag gebring, maar hy het nooit terugvoer gegee soos hy veronderstel is om te doen nie.”

Nog ’n ontstoke inwoner, Sheila Erasmus, sê daar het wel ’n lorrie opgedaag wat die dreine uitpomp, maar die probleem is steeds daar.

Erasmus sê: “Die munisipaliteit het seker die lorrie uitgestuur ná al die klagtes wat hulle ontvang het.

“Ek het die lorrie agtervolg. Dit het net tot onder in die straat gery en toe verdwyn. Hulle het niks gedoen nie.”

Wehr sê hy was reeds besig om die probleem onder die burgemeester se aandag te bring toe Son hom kontak.

Hy sê: “Ek gee al van verlede Maandag af aandag aan die kwessie. Ek weet nie hoekom jaag die lorrie net daar deur en doen niks nie. Ek gaan uitvind wat aangaan.

“Dis oor die munisipaliteit nie reageer nie dat ek nou self met die burgemeester kom praat het.”

Wehr het belowe hy sal dringende aandag aan die probleem gee.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters