28 dae gelede
Mense betoog teen borgtog vir vrou se eks
Woedende inwoners het die motor van die verdagte wat Siphokazi Booi vermoor het, aan die brand gesteek.  ~ Lindile Mbontsi

’N GESIN in Mbekweni berei hom nou voor om ’n vrou ter ruste te lê wat na bewering deur haar kêrel doodgeslaan is.

Sithobele Qebe het Vrydag verskyn in die Paarl-landdroshof, waar sy borgtogaansoek aangehoor is. Buite het ’n groep inwoners in die strate betoog teen sy moontlike borgtog.

Qebe is vroeër dié maand in hegtenis geneem nadat sy lewensmaat, Siphokazi Booi, se verbrande lyk op ’n stortingsterrein naby die Mbekweni-treinstasie gevind is.

DNS-uitslae het bevestig dat die lyk inderdaad dié van die 27-jarige Booi was.

Qebe was uit op borgtog in die tyd toe Booi vermoor is. Dít nadat hy haar na bewering verlede maand by sy huis in White City aangerand het.

Booi se tante Zukiswa Mohono het die hofverrigtinge bygewoon en gesê die gesin is kwaad oor wat met hul geliefde gebeur het, veral as dit aan die hand was van iemand wat bedoel was om haar te beskerm.

“Dit is asof sy vir hom geen waarde het nie, maar vir ons het sy waarde,” sê Mohono.

“Die manier waarop hy haar vermoor het, toon dat hy nie respek vir vroue het nie en nie respek vir die gemeenskap as geheel het nie. Dit is dus onaanvaarbaar dat hy om borgtog vra.” – EWN

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters