2 maande gelede
Matriekuitslae bring groot vreugde
trots: Langeberg Sekondêr se 2018-matrikulante was anderkant bly oor hulle uitslae.Foto: basil davids  ~ 

ROBERTSON. – Die matrieks van die Sekondêre Skool Langeberg het hulle belofte beslis nagekom.

Hulle het hulle onnies en skoolhoof verlede jaar beloof dat hulle ’n slaagpersentasie van oor die 75% sal behaal.

Die matrieks van 2017 het nie so goed gevaar nie en het ’n slaagpersentasie van slegs 63% behaal.

Hulle skoolhoof, Adrian Landman, was glad nie beïndruk nie.

Die leerders van 2018 het toe ’n belofte gemaak dat hulle ver beter as hulle voorgangers sal vaar.

Gister, toe die leerders uit die mond van Landman hoor dat hulle hulle slaagpersentasie oortref het, het die leerders mal gegaan.

Hulle het ’n persentasie van 75,2% behaal.

Ongelukkig het 47 matrieks dit nie gemaak nie, maar kom wel in aanmerking om ’n aanvullende eksamen later hierdie jaar te skryf.

Senuagtig

Jacky Davids (19) en Lameez Julius (18) wil graag albei aktrise word en droom daarvan om eendag in ’n Afrikaanse sepie op TV te verskyn.

Simni Burwana (19) was oorstelp van vreugde toe sy sien sy slaag.

“Ek was die afgelope tyd baie senuagtig en kon skaars eet en slaap,” het Simni betraand gesê.

Volgens haar gaan sy dié jaar nie rus nie. Sy wil so gou moontlik aan ’n goeie job kom.

Britney Snyman (18) was die topstudent en gaan chemiese ingenieurswese swot.

Die 2018-matrieks het gesê dat hulle nou hoop dat 2019 se matrieks selfs nog beter sal vaar en die skool se naam hoog hou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters