12 dae gelede
Masseur: Ma seer
GEGRIEF: Rachel Muller sê haar seuntjie Waylon verloor ’n skooljaar omdat hy sy juffrou in die klas moes masseer.  ~ Kallie Smit

PORTERVILLE. – ’n Leerder het ’n skooljaar verloor oor hy gedurig onder boelies moes deurloop – en sy juffrou se stywe spiere moes massage, sê sy ma.

Waylon Muller (8) doen nou gr. 1 by Porterville Primêr oor nadat hy laas jaar ná ses maande die skool verlaat het.

Rachel Muller (36) sê haar kind was so bang vir skool toe gaan dat sy saam met hom klasse moes bywoon.

Plaasskool

Sy sê: “Toe ek sy juffrou vra hoe hulle die probleem gaan aanspreek, het sy aanbeveel dat ek my kind na ’n ander skool oorplaas.

“Die skool het toe sommer self vir ’n oorplasing na ’n plaasskool gereël en dadelik ’n vertrekkaart uitgereik.

“Toe ek vir die juffrou vra om sy skoolwerk vir my te gee, sê sy hy het die afgelope ses maande niks werk gedoen nie.”

Muller sê almal in hul huis was verbaas toe Waylon op ’n tyd net almal wou masseer en dit toe nogal goed gedoen het.

Waylon het aan Son vertel hoe hy sy aandag op mas­sage sessions vir sy juffrou moes vestig terwyl sy klasmaats op hul skoolwerk gekonsentreer het.

Muller sê dis oor haar kind sy juffrou so moes pamperlang dat hy nie by sy skoolwerk kon uitkom nie.

Sy het hom toe maar vir die res van die jaar by die huis gehou oor hy nie gemaklik was met die vervoerskedule na die plaasskool nie.

“Waylon doen nou gr. 1 oor en hy is by ’n juffrou wat belowe het dat sy mooi na hom sal kyk. Hy maak nou goeie vordering by die skool, maar hy is sowat ’n week gelede weer deur drie skoolseuns aangerand.

“Twee van die seuns het hom vasgehou terwyl ’n gr. 2-laitie albei sy oë blou geslaan het.

“Hoewel die voorval by ’n winkel plaasgevind het en nie in skooltyd nie, is hy nou bang om saam met sy maats skool toe te loop omdat die kinders wat hom aangerand het hom soggens inwag.

“Hy weier om skool toe te stap as daar nie ’n grootmens by is nie.

“Ek was by die skoolhoof, maar ek kon nie ’n oplossing met hom bewerkstellig nie.

“Toe ek by die polisie gaan kla, toe sê ’n beampte dis ’n mors van tyd.”

Son het voorheen oor dié skool berig nadat ’n leerder ’n onnie se zip oopgemaak, sy privaat dele ontbloot en voor sy klasmaats daarmee gespeel het.

Dié onderwyser het kort daarna bedank toe ’n ander leerder hom met ’n besemstok aangerand het.

In nog ’n voorval is ’n onnie vir ’n kwartaal vir stres afgeboek nadat hy ’n sigaretaansteker by ’n laitie by die skool afgevat het.

Die klong het ’n pit bull by die huis gaan haal en die hond in sy klaskamer op die onderwyser losgelaat.

Dié is van die talle klagtes wat Son destyds oor leerders by dié skool ontvang het.

Die hoof, Cedrick Zincke, sê hy weet van Muller se probleem: “Goed wat buite skooltyd gebeur, is buite die skool se beheer. Ouers moet met mekaar praat oor dié soort probleme.”

Verbeter

Zincke het belowe om Waylon se probleem so gou moontlik met sy ma te bespreek. Hy sê daar is hard gewerk aan die probleme met leerders by die skool en die toestand het intussen baie verbeter.

Lt.kol. Ilse Lesch, bevelvoerder by die polisiestasie in Porterville, sê die beampte wat Muller se klag hanteer het, het verkeerd opgetree en dat sy Muller sal kontak.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters