Verlede maand
Masker al deel van sy gesig
WEER SULKE TYD: Swartz sê hy is moontlik meer as ander mense daaraan gewoond om ’n masker te dra.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Titus Swartz (56) was genoodsaak om ’n “gesigmasker” te dra nadat sy “tikkop-klong” hom lelik in die gesig verbrand het.

Swartz se masker van verbande is skaars van die brandwonde verwyder, toe moes hy weer ’n masker dra.

Vir hom is dit “déjà vu”, soos die Franse daai gevoel van herhaling bestempel.

Dié keer is Swartz genoodsaak om sy gesig teen die corona-virus te bedek.

Son het ’n paar maande gelede berig dat Swartz se klong ’n pot kookwater in sy gesig geskiet het. Dit was water waarin Swartz besig was om aartappels te kook.

Die klong het die middag glo met sy pa skoor gesoek oor Swartz gesê het hy moet vir hom ’n job gaan soek en nie ledig tuis rondsit nie.

Herstel

Swartz moes vir weke met die verbande aan sy gesis loop. Dit het hom soos ’n mummie laat lyk.

Hy was skaam om so in die openbaar te verskyn.

Nadat die wonde volkome herstel het, was dit net ’n maand toe moes Swartz maar weer met ’n masker op die gesig loop.

Hy het aan Son gesê: “Ek was vir weke gewoond aan die verbande aan my gesig, maar aan die begin was dit nogal baie ongemaklik.”

Sy verbande was skaars af toe tref die pandemie die hele wêreld en daar is hy back to square one.

Daaroor sê Swartz: “Vir my is dit niks nuuts nie, want daai verbande aan my gesig het my gewoond gemaak en moontlik cope ek nou beter as baie ander mense met die masker aan.”

Swartz sê hy vat die pandemie baie ernstig op.

“Jy weet, ek werk mos tussen baie mense. Ek knip wingerd,” verduidelik hy.

VERBRAND: So het Titus Swartz (56) aan die begin van die jaar gelyk nadat kookwater in sy gesig geskiet is. Foto: Basil Davids

Selfs in die tyd toe hy nog erg beseer was in sy gesig, het hy getrou gaan werk.

“Wie weet – dalk het die virus al lank­al versprei terwyl ek op daai landerye tussen die klomp mense gewerk het,” sê hy.

Hy meen hy kon die virus dalk doerie tyd al opgedoen het.

Swartz sê dis omdat hy weet van mense wat saam met hom gewerk het en wat kort ná die uitbreking daarvan positief getoets is en daarna in kwarantyn geplaas is.

Hy sê vol moed: “Ek voel vandag weer soos ’n nuwe mens.

“Ek beskerm myself en gebruik groen plante se sap wat ek so aan my gesig smeer om dit weer mooi te laat lyk.”

Tog, sê Swartz hartseer, het hy sy seun nog nie ver­gewe vir wat hy sy pa aan­gedoen het nie.

Volgens Swartz sal sy seun op 9 September weer in die hof verskyn op ’n klag van aanranding.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters