27 dae gelede
March tot by mayor se huis
Verantwoordbaarheid: Conrad Poole, die Drakenstein Munisipaliteit se uitvoerende burgemeester.  ~ Foto: Anele mfazwe

INWONERS van Paarl-Oos het hulle frustrasies na die Drakenstein Munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Conrad Poole, se huis gevat.

Sowat 30 mense het Sondagaand buite Poole se huis in Amstelhof teen die council se deernisbeleid betoog.

Dit kom nadat honderde betogers wat Dinsdag laas week na die munisipale geboue gemarch het, geweier het om ’n memorandum aan die waarnemende burgemeester, Rean Smuts, te oorhandig.

Son het verlede Woensdag berig dat Poole afwesig was weens ’n mediese afspraak wat hy daardie dag gehad het.

Bazil Jacobs, ’n gemeenskapsleier, sê hulle het besluit om voor die mayor se huis te betoog, want hy was nie daar om laas week hulle memorandum te ontvang nie.

Jacobs sê: “Die belangrikste is dat ons alles vreedsaam gedoen het. Die polisie het in ’n stadium opgedaag.

Leuen

“Private sekuriteit het ook opgedaag. Daar was gerugte dat die burgemeester gesê het daar is mense wat sy huis wil afbrand.

“Dis ’n totale leuen.”

Intussen het Michael Jacobs, ’n gemeenskapsleier, gesê sowat 30 mense het Maandagaand buite die DA-raadslid Joan Anderson se huis betoog.

Volgens hom was dit in reaksie op Anderson se voice note, wat wyd op WhatsApp versprei is en waarin sy sê die mense wat teen die deernisbeleid betoog, is almal hok-bewoners wat lui is om werk te soek.

Die adjunkburgemeester van die Paarl, Gert Combrink, sê egter dis nie waar dat hulle betogers geïgnoreer het nie.

Volgens hom het Poole self verskeie kere met hulle vergader.

Combrink sê verder dis onduidelik wat die agenda van die groep is.

Hy sê ook inwoners wat meer oor die deernisbeleid wil weet, kan die munisipaliteit se tolvrynommer by 080 131 3553 bel of gerus ’n e-pos aan customercare@ drakenstein.gov.za stuur.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters