Verlede maand
Man sterf wreed
PLATGESLAAN: Pam van der Merwe (links) en Rome Cupido, Abrie van der Merwe se susters, is gebroke ná hul broer se wrede dood.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – ’n Jong man in die fleur van sy lewe het ’n wrede dood gesterf.

Abrie van der Merwe (20) is Saterdagaand ten aanskoue van sy tjommies met ’n panga oor die kop geslaan.

Sy aanvaller het glo niks mercy getoon nie.

’n Viral video in die sosiale media toon duidelik hoe ’n man met ’n panga en nog ’n voorwerp in sy hande staan.

Op die video lê Abrie in die pad terwyl die bloed soos water uit ’n kraan uit sy kop stroom.

In die video sê ’n vrou dat sy Abrie se aanvaller goed ken.

Iemand het die nommerplaat van die verdagte se voertuig ook op film vasgelê.

Mense raak ook histeries op die toneel en skree dat Abrie dood lê.

Dinsdag het Abrie se mammie, Pamela van der Merwe, in trane uitgebars toe sy oor sy lewe gepraat het.

“Hy sou volgende week sy 21ste verjaardag gevier het en ons het so baie daarna uitgesien,” sê die bedroefde mammie terwyl die trane oor haar wange rol.

Sy twee susters, Rome­ Cupido en Pam van der Merwe, is ontroosbaar.

“Daar is net goeie dinge wat ons as susters van Abrie kan sê. Hy was ’n lieflike broer wat nooit, ooit vir ons ’n slegte of ’n vloekwoord geuiter het nie,” sê Rome hartseer.

Volgens hulle het hul broer die aand van die voorval saam met sy vriende in die Môreson-woonbuurt ge­kuier.

Vrede

Rome sê hulle weet nog nie wat presies gebeur het nie en sal nog agter die waarheid kom.

Pamela sê: “Ek as ma laat dit nou alles in die hande van die Here oor en ek het vrede in my hart.”

Pamela sê sy wil net hê dat die gereg sy beloop moet neem.

Kort ná die aanval op Abrie is hy per ambulans na ’n hospitaal geneem.

Pamela sê hul kind was aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel, maar het Dinsdag sy stryd verloor.

Sy tjommies het ook die geleentheid gekry om ’n finale goodbye te sê.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

Van Wyk sê die verdagte het Dinsdag in die plaaslike landdroshof op aanklag van moord verskyn.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters