Verlede maand
Man kan steeds nie praat ná aanval op hom
sterk aan: Duane Fortuin sal hopelik eersdaags kan sê wie hom so liederlik aangerand het.Foto: Basil Davids  ~ 

ASHTON. – ’n Saak van aanranding is teen ’n plaasboer geopen wat Duane­ Fortuin (29) na bewering­ op die Stormsvleipad vir dood agtergelaat het.

Son het vroeër berig dat Fortuin en sy pel Nishaan Fredericks (30) op ’n plaas buite die dorp teer­pale wou gaan steel het.

Fredericks het vertel dat die betrokke boer hulle op heterdaad betrap het.

Volgens Fredericks het hy en Fortuin toe weggehol, maar die boer het hulle beveel om stil te staan of hy gaan hulle skiet.

Volgens Fredericks het hy gesien hoe die boer ’n gun uitpluk. Kort daarna het Fortuin neergeval.

Verbygangers het ’n erg beseerde en bewustelose Fortuin in digte bosse op die Stormsvleipad gevind ’n dag nadat hy as vermis aangemeld is.

Hy is na ’n hospitaal geneem waar ’n noodoperasie gedoen is weens ernstige breinskade.

Wakker

Die vermoede is dat sy aanvaller hom met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan het.

Volgens sy ma, Annie, is haar seun wakker, maar kan nog nie praat nie.

AO Sylvester Joseph, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van aanranding is aanhangig gemaak.

Joseph sê die boer het nog nie sy verklaring kom aflê nie.

“Sodra die plaasboer sy verklaring afgelê het, sal die klagte teen hom meer duidelik word,” het Joseph verduidelik.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters