Verlede maand
Maat probeer sesjarige red

MCGREGOR. – Haar maatjie het nog na haar gekyk toe hy onder die water verdwyn het.

Petronella Baartman (8) kon net verslae toekyk hoe haar maatjie Sarvano Jacobs (6) in die dam gly en toe onder die water verdwyn.

’n Hartseer Petronella sê sy en nog ander maatjies het Woensdag ná 12:00 na die Vaaldam gestap wat on­geveer 1 km van hul huis af is.

Volgens Petronella het hulle besluit om te gaan swem terwyl dit nog kliphard gereën het.

“My maats het gesê die dam sal lekker vol wees en ons sal dan heerlik in die water kan swem,” vertel sy.

Toe hulle by die dam kom, het van die oudste maats uitgetrek en ingeduik.

“Ek en Sarvano het ’n ent verder om die dam geloop, weg van die ander af,” sê Petronella terwyl sy aan haar daddy, Salmon Adendorff (37), vasklou.

Volgens Petronella het Sarvano gesê hulle moet deur ’n gat in die heining klim. Hulle het op die plastiekseile gaan staan wat teen die wal vasgemaak is.

Klou

’n Bewerige Petronella sê Sarvano het haar in die dam probeer stoot, maar sy kon gelukkig teen die gladde seile vasklou.

“Hy het toe self in die water geval,” sê sy.

Petronella sê Sarvano het op sy maag gegly en het nog probeer om met sy vingers aan die seil vas te klou.

Merke aan die seil is duidelik sigbaar waar Sarvano probeer vasklou het daaraan.

“Hy het geskreeu ek moet hom kom help, maar ek was te bang ek gaan verdrink,” sê Petronella huilend.

Volgens Petronella het sy toe probeer om op haar magie te gaan lê en haar arms na Sarvano uit te steek.

Sy vertel Sarvano het haar in die gesig gekyk toe hy onder die water verdwyn het.

Petronella het toe na die ander maats geroep, maar hulle kon haar nie hoor nie.

“Ek het toe in die pad afgehardloop. Toe kom daar ’n polisie-vên aangery.”

Die polisie het volgens haar nie na die dam gery nie, maar haar huis toe geneem, waar sy haar ouers vertel het wat gebeur het.

Mense het toe van die voorval gehoor en na die dam toe gehol.

Die polisie het kort daarna opgedaag.

Die polisie se duikeenheid het Sarvano se lyk 17:30 uit die dam gehaal.

Adendorff sê hy is net bly daar is nie twee lykies uit die water gehaal nie, maar is jammer oor Sarvano.

“Ons hou oë op onse kinders, maar as ons onse oë uitvee, verdwyn hulle,” sê ’n erg ontstelde Adendorff.

Sarvano se broer, Johan­dro Jansen, (16) beskryf sy boetie as ’n woelige outjie wat elke dag vir ’n rand gevra het. Johandro sê Sarvano was nog die oggend van sy dood in ’n vrolike bui.

Die cops het ’n geregtelike doodsondersoek aangevra.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters