27 dae gelede
Ma sukkel kwaai met tik-dogter
MOET KYK: Karen MacDonald sê hulle moet weer die lêer raadpleeg om te sien hoe ver die saak is.  ~ Bohemia Jumatt

GRABOUW. – Die trane stroom oor haar wange.

Haar hartseer skouers is krom en geboë. Sy voel verslane. Verslaan deur ’n tikkop-dogter wat besig is om die wreedste, koudste gedagtes in haar mind te laat nesskop ...

Jennifer Vergo­tine sê haar dogter tik al van 13-jarige ouderdom af.

En twee jaar later­ is haar tik-manewales so erg, Jennifer lê snags wakker en kry moordgedagtes oor haar eie kind, haar eie vlees en bloed.

Jennifer is raadop. Haar dogter het ál hul Krismisklere verkoop vir tik. Tien keer is haar selfoon al by merts in die pan gesit.

Dinge was al so erg, vertel sy, dat sy haar dogter se tik-habit met haar karige AllPay-geldjies moes voed, anders is sy aangerand.

Van die strafregsake wat sy al gemaak het, het daar dadels gekom.

“Elke keer word die maatskaplike werker net ingeroep en dan kom daar niks van die saak nie,” vertel die mammie hartseer.

Uit desperaatheid het Vergotine Son kontak om haar storie te vertel, want dalk, hoop sy, dalk lees iemand haar smart raak en verlos haar uit hierdie tik-put.

Sy vertel: “Wanneer ek die polisie bel, weier hulle summier om te kom.

“Hulle ken al my adres. Dit voel ek kan haar leed aandoen, maar dan gaan ék tronk toe.

“Ek is al so moeg. Praat help glad nie.”

Toe Son in April laas jaar hieroor berig het, was die maatskaplike werkers van Kindersorg Grabouw besig om met Vergotine se dogter te werk.

Toe hulle haar in die sorg van ’n pleegouer plaas, het sy sommer in die nag weggeloop.

Daarna sou Kindersorg die dogter in ’n rehab geplaas het, maar tot vandag toe wag hulle steeds, sê Vergotine.

Sy sê sy wil nie verder haar tyd met hulle mors nie oor hulle haar nooit regtig kon help nie.

Maar Karen MacDonald, hoof van Kindersorg, het aan Son gesê Vergotine se dogter hou haar te groot vir haar skoene.

MacDonald sê sy sal weer na die tienermeisie se lêer moet gaan kyk om te sien hoe ver die saak is.

Aandoen

Vergotine sê dis haar noodkreet dat haar dogter die hulp moet kry wat sy benodig. Anders is dit verby met haar, reken sy.

Vergotine pleit: “Ek wou so graag gehad het dat hulle haar net op ’n plek moes kry waar sy gehelp kon word.

“As ék haar nie gaan iets aandoen nie, gaan sy buite seerkry of doodgemaak word. Dis al wat ek vra.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters