23 dae gelede
‘Ma sterf soos sy gedreig is’

DIE beskuldigde in ’n moordsaak het na bewering ’n lelike obsessie met die vermoorde vrou gehad en altyd gedreig hy gaan nog haar oë uithaal.

Dis hoe die lyk van Juanita “Nita” Willemse, enkelma van drie, Vrydagoggend in Hawston gevind is.

“Hy het haar wreed doodgemaak. Een van haar oë is uitgehaal,” sê Nita se ma, Elizabeth Willemse (48).

Volgens die polisie is Nita met ’n tou om haar nek in Cambridgeweg naby haar ma se huis gevind.

Haar jongste kind se pa, Amsley Witbooi (20), is vir hierdie grusame moord aangekeer.

Witbooi het gister in die hof in Hermanus op ’n klag van moord verskyn.

Hy het reeds aangedui hy wil nie vir borgtog aansoek doen nie.

SAD: Maurencia Gillion (met swart masker) en Nita se familielede by die hof. Van links is haar oom Jannie Evertson, haar ma, Elizabeth Willemse, en haar broer, Elroy Willemse. FOTO’S VERSKAF

“Hulle was die afgelope twee jaar aan en af. Voor haar dood was hulle weer uitmekaar. Donderdagaand het hy haar kom haal en gesê sy moet eers die kind aan die slaap maak.

“Ek het nog vir haar gesê sy moenie gaan nie. Maar sy het ’n ander tipe vrees gehad vir hom.”

Nogtans het Willemse nie geweet dit sou die laaste keer wees dat sy haar kind lewend sien nie.

“Sy was my oudste meisiekind en een van drie kinders. Sy het drie kinders, twee meisies (11) en (2), asook ’n seuntjie (5).”

stel hul kant: Die posters doen die praatwerk.

Willemse sê die twee oudstes wys hulle mis hul ma.

“Hulle kan nie saans slaap nie. Dan moet ons ounag opsit met hulle.”

Sy sê sy moet nou na haar dogter se kinders omsien. “Ek was nog altyd deel van hul grootmaak en moet dit nou net alleen doen.

“Gelukkig het ek in dié tyd die bystand van die hele Hawston-gemeenskap.”

Maurencia Gillion is een van die vele mense wat die Willemse ondersteun. Gil­lion is voorsitter van die nasionale raad van provinsies (NCOP) se komitee oor gesondheid en maatskap­like ontwikkeling en ’n oud-inwoner van Hawston.

Staan Saam: Baie mense neem deel aan die betoging vir #JusticeVirNita.

Opgedaag

“Ek was geskok toe ek hoor wat gebeur het. Ek weet geslagsgeweld gebeur daagliks en rondom ons, maar ek het nie gedink dat só iets in ’n dorp soos Hawston sal gebeur nie.”

Gillion het mense op haar sosialemedia-platforms gevra om teen borgtog vir Witbooi te betoog.

“ ’n Klomp ondersteuners, nie net politici nie, het opgedaag.”

Sy sê sy was geskok om te sien Witbooi is nog pure kind. “Hy is nie groot van postuur nie en hy het geen emosie getoon nie.”

Inwoners in Hawston sê dis nie die eerste keer dat Witbooi vir moord in die beskuldigdebank staan nie.

“Hy is nog nie drie maande buite nie nadat ’n moordsaak teen hom teruggetrek is,” sê ’n anonieme inwoner.

Die saak is tot 8 Oktober uitgestel.

Willemse tref reëlings om Nita Sondag te begrawe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters