12 dae gelede
Ma kry nou baie support
BYDRAE: Vincent Daniels van Sacsa saam met Louisa Gertse en Ricardo Davids en twee van die borge, Samantha Jumath (Old Mutual) en lt.kol. Charlie Meiring (SAPS).  ~ Kallie Smit

TULBAGH. – Die ma van die seun wat twee weke gelede vermoor is, kry nou groot ondersteuning uit verskeie oorde om die smart van haar kind se dood effens te verlig.

Reagan Gertse (8) is vermoedelik vermoor deur ’n man wat hy goed geken het.

Jakobus Petoors (59) word aangehou vir Reagan se moord. Hy face klagte van ontvoering, verkragting en moord. Hy het ook ’n vorige veroordeling vir die verkragting van ’n vyfjarige kind.

Petoors is onlangs op parool vrygelaat nadat hy net die helfte van sy vonnis van 14 jaar uitgedien het.

Die regering is kort ná Reagan se moord skerp gekritiseer oor misdadigers soos Petoors se paroolvoorwaardes.

Son was Donderdag saam met Sports Against Crime South Africa (Sacsa) by Reagan­ se ma, Louisa (29) toe dié organisasie klere en kos hampers aan Gertse oorhandig het.

Sy het ook geldelike hulp ontvang.

Van die borge wat bygedra het, is Old Mutual, die SAPD en Secure Rite Security in Somerset-Wes.

Sacsa, wat al 33 jaar aan die gang is, het ook onlangs uitgereik na ouers wat deur dieselfde lot as Gertse getref is.

Vincent Daniels, president van Sacsa, sê: “Die regering moet meer betrokke raak om tragedies soos dié van Reagan te help voorkom en die paroolvoorwaardes hersien van misdadigers wat kinders verkrag en vermoor.

“Dit baat nie hulle wil optree wanneer dit te laat is en ’n kind klaar sy lewe verloor het nie.

“Die strawwe wat howe vir dié soort crimes oplê, is gans te lig.”

Gertse het die skenking ontvang pas nadat sy en haar kêrel, Ricardo Davids (29), berading in Ceres ontvang het.

Sekere mense buit egter nou Gertse se situasie uit en samel geld namens haar in. ’n Aardige bedrag het al in die skelms se sakke beland.

Gertse het mense gewaarsku om nie geld te skenk aan mense wat met ’n kollektelys geld namens haar insamel nie.

Alle skenkings wat sy tot dusver ontvang het, kom van donateurs wat vrywillig skenkings maak en dit self tot by haar bring.

Gertse het ook al skenkings van ander mense ontvang en Lucinda Evans, ’n gemeenskapsleier van Lavender Hill, het haar en Reagan se maatjies ook Saterdag besoek.

Dankbaar

Gertse sê oor diegene wat haar so ondersteun: “My hart loop oor van blydskap. Ons het nie verwag dat mense ons só sou bystaan nie.

“Ek is ook baie dankbaar vir Son en die rol wat die koerant gespeel het om hierdie skenkings aan my moontlik te maak.”

Sacsa se hoofdoel is om misdaad deur middel van sport te bekamp. Hy fokus veral op skole.

Die organisasie het ook Saterdag ’n sportdag by Rusthof Primêr in die Strand aangebied om sy Safer Schools-veldtog te bevorder.

Enige een wat meer inligting omtrent Sacsa se werksaamhede wil bekom, kan Daniels bel by 082 865 1144.

Reagan Gertse

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters